Logan skryf wenliedjie-prys los
Skryf’it lui ’n nuwe era van Afrikaanse musiek in – een liedjie op ’n slag. Dit is gebore uit ’n droom om ’n nuwe Afrikaanse treffer te ontdek wat harte aanraak, geslagte verbind en vir die volgende 100 jaar in die huis en hart van elke Afrikaner sal weerklink.
Uit honderde inskrywings, en na ure se kreatiewe slypwerk en duisende stemme, is die liedjie “Afrikaans my taal”, geskryf en gesing deur Logan Pietersen, Saterdag by die Voortrekkermonument aangekondig as die wenner van die Skryf’it met ode aan Afrikaans liedjieskryfkompetisie. Pietersen het ’n totale pryspakket ter waarde van R75 000 ontvang Dit sluit onder meer in ’n professionele musiekvideo en ateljee-opname, reklame- en bemarkingsondersteuning, die vrystelling van die wenlied, asook R25 000 kontant.
‘n Oorweldigde Pietersen het na die aankondiging van die wenner gesê: “Ek het hierdie liedjie geskryf vanuit ’n plek van eerbied vir ons taal, en die mense wat dit leef, Dit is ’n groot voorreg om deel te wees van iets wat ’n verskil maak.”
Nádine, Pietersen se ghoeroe, sê sy het van die begin af geweet dat hy iets spesiaal beet het. “Hierdie liedjie het soveel waarheid en hart. Wat ’n voorreg om sulke talent te help groei.” Tuin Schoeman (met ghoeroe Ampie) was tweede, en Judite Howell (met ghoerie Danie du Toit) derde. Albei het sterk,
oorspronklike liedjies gelewer wat hul plek in die topdrie verdien het.
Schoeman en Howell het nie met leë hande weggestap nie en wen ’n 12-maande-intekening vir die Superster: Vonk- kursus ter waarde van R4 200.
Die Skryf’it-finaal is voorafgegaan deur ’n optrede deur Jan Blohm wat deur 3 000 mense bygewoon is. Verskeie talentvolle deelnemers wat in vroeëre uitdunrondes van die kompetisie uitgeval het, het ook die gehoor met hul oorspronklike musiek bederf, en is die top drie finaliste se oorspronklike Afrikaanse liedjies gehoor.
Ampie het die waarde van Skryf’it beklemtoon en gesê ons het mense nodig wat in Afrikaans voel én skryf. “Skryf’it is die brug tussen rou talent en werklike roeping.”
“Wat op die verhoog gebeur het, is nie net musiek nie – dis ’n beweging. Dit is die begin van iets groot,” het Spoegwolf se Danie du Toit bygevoeg.

Barry Müller, die FAK se nasionale hoof: gemeenskap, geskiedenis en ad hoc-projekte, meen projekte soos dié is broodnodig vir die taal se ontwikkeling. “Skryf’it is ’n monument vir die toekoms van Afrikaans. Dit gee ’n stem aan mense wat andersins nie gehoor sou word nie.
Talent en taal versterk mekaar en dit skep hoop. Volgende jaar beloof Skryf’it om nóg groter te wees,” sê Müller.
Volgens Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, skep die Skryf’it- liedjieskryfkompetisie ’n kreatiewe ruimte waar nuwelinge en gevestigde kunstenaars
saamwerk om Afrikaanse musiek nuwe vlerke te gee. “In die eeufeesjaar van Afrikaans as amptelike landstaal en met die 150ste herdenking van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), is dit ’n herinnering dat taal lééf wanneer dit gesing word.”



