Local newsNews

Ngwathe onder drie VS munisipaliteite wat Eskom meeste skuld

Gesprekke tussen Eskom en munisipaliteite in die Vrystaat wat geraak word, duur voort oor die moontlike onderstekening van verspreidingsagentskapooreenkomste.

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit is met Eskom-skuld van R2,6 miljard, onder die drie munisipaliteite in die Vrystaat wat Eskom die meeste skuld.  Die Maluti-a-Phofung munisipaliteit is die grootste sondebok met ‘n R9,5 miljard skuldlas aan die kragreus, gevolg deur die Matjhabeng-munisipaliteit wat se skuldrekening aan Eskom nou op R6,9 miljard staan.

Munisipaliteite in die Vrystaat skuld Eskom  gesamentlik R28,4 miljard is aan Gazette bevestig.

Daar is ook Maandag bevestig dat hoewel die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit nog nie ‘n verspreidingsagentskapooreenkoms (DAA) met Eskom onderteken het nie, is Eskom steeds in gesprek met Vrystaatse munispaliteite wat geraak word oor die moontlike onderstekening van die ooreenkomste.

Die voorstel vir  ondertekening van DAA-ooreenkomste tussen Eskom en Vrystaatse munisipaliteite wat groot bedrae aan Eskom skuld, het in Februarie gekom na ingryping deur die Minister van Elektrisiteit en Energie (MoEE), dr Kgosientsho Ramokgopa, as ‘n poging om volhoubare oplossings vir munisipaliteite te vind wat elektrisiteitsverwante finansiële probleme ondervind.

Minister Ramokgopa het toe finansieel benoude munisipaliteite aangemoedig om by Eskom betrokke te raak in onderhandelinge, en te oorweeg om die  aktiewe vennootskapooreenkomste te onderteken wat kan lei tot verspreidingsagentskapooreenkomste.

Die samesprekings met die minister was ‘n direkte uitvloeisel van publieke kennisgewings wat vroeër deur Eskom  vir die Ngwathe munisipaliteit sowel as die Nala, Moqhaka, Masilonyana en Nketoana Plaaslike Munisipaliteiteit geplaas is oor Eskom se voorgenome aksie weens die munispaliteite se volgehoue wanbetaling. ‘n Soortgelyke publieke kennisgewing is ook  op 29 Januarie vir die Mantsopa Plaaslike Munisipaliteit gepubliseer in ooreenstemming met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA).

Eskom het reeds  in Maart vanjaar sy besluit bekend gemaak wat voorgenome ontkoppeling van grootmaat kragvoorsiening aan die Vrystaatse munisipaliteite waaroor publieke kennisgewings geplaas was, op ys te hou word terwyl gesprekke oor verspreidingsagentskapooreenkomste voortduur.

Die inisiatief waaroor die minister in Februarie met die wanbetalende munisipaliteite na die kennisgewings in gesprek getree het, is ontwerp om munisipaliteite te help om hul dienslewering te verbeter deur Eskom se kundigheid in ingenieurswese, en inkomste invordering en finansiële bestuur, te benut.

Eskom sê hy het met onlangse verspreidingsagentskapooreenkomste soos by Maluti-a-Phofong, gesien hoe dit daartoe kan bydra om elektrisiteitsverliese te bekamp, munisipaliteite se skuldgroeikoers te verminder, en beide diensgehalte en betalingsvlakke te verbeter.

‘n Verspreidingsagentskapooreenkoms is ’n langtermynkontrak wat munisipaliteite met Eskom kan aangaan. Deur hierdie ooreenkomste verskaf Eskom verskeie dienste om die tegniese en finansiële kapasiteit van munisipaliteite te verbeter, om die volhoubaarheid van elektrisiteitsvoorsiening te verseker. Eskom verduidelik ook dat hierdie dienste vaardigheidsontwikkeling en opleiding, meterinstallasie of vervanging, en inkomste-invordering namens munisipaliteite, kan insluit.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button