Web van leuens: ‘n Fout is soms net ‘n klik weg
Die les om te leer is - dink twee keer voor jy iets deel en voor jy iets aanstuur, want voor jy weet mag jy jou dalk in die taai web van sosiale media bevind.
Die skrywer Marion Erskine was self die slagoffer van kuber-afpersing – vir jare lank, deur ’n vrou wat obsessief oor hom geraak het. Hy kon haar nie afskud nie, en sy het selfs sy familie en werkgewers betrek. “Die magteloosheid, die skaamte, die vrees – ek het dit alles gevoel.”
“Toe ek besluit het om vir jongmense ’n “whodunit” te skryf, het ek geweet ek wil daardie pyn gebruik vir iets betekenisvols,” gesels Marion oor sy boek, Web van Leuens.
“As die verhaal eg voel, is dit omdat dit met egte emosie geskryf is. As dit iemand help om te dink voor hulle iets aanlyn stuur — of net bewus raak van die gevaar — dan was dit die moeite werd.”
Analize Viljoen het met Marion gesels oor sy nuutste jeugboek, Web van Leuens
Marion Erskine is ‘n Afrikaanse skrywer wat in Randfontein gebore is en aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus studeer het. Hy het bekend geraak vir sy romans, jeugboeke en radiodramas. Baie hoërskoolleerlinge sal sy boek Vlerke vir almal ken.
Waaroor gaan Web van leuens?
Web van leuens vertel die storie van drie tieners in ’n klein dorpie wat skielik aanlyn afgepers word. Elkeen dra ’n groot geheim — iets wat hulle ten alle koste wil stilhou. Maar dan gaan iemand dood. Al drie het rede gehad om van daardie persoon ontslae te raak.
Die boek is geskryf vir lesers van 14 jaar en ouer, maar ek glo enige iemand wat belangstel in jongmense, tegnologie en die gevare van sosiale media, sal aanklank vind. As jy kinders of kleinkinders het, sal hierdie boek jou ’n blik gee op die wêreld waarin hulle daagliks moet oorleef — en op die foute wat net een klik weg is.

Wat is jou gunsteling paragraaf in die boek?
“Lerato draai regs, Marno reguit aan, en Clayton links. Drie rigtings, drie wêrelde. Bo hulle
flikker ’n straatlig, drie kort flitse, drie langes, drie kortes. Dalk Morsekode wat die
wêreld vir hulle drie uitstuur.”
Dis daardie stil, amper filmiese oomblikke waarvan ek hou – wanneer iets uiterlik klein gebeur, maar innerlik alles verskuif.
Wie was die lekkerste karakter om te skryf?
Sonder twyfel Clayton. Ek dink lesers gaan van hom hou omdat hy sê wat baie van ons dink, maar nie durf sê nie. Hy’s die “washout” soos sommige hom noem, iemand wat al lankal uitgeskuif is. Maar daardie posisie gee hom ook vryheid.

Jy woon in Nantes, Frankryk. Hoe bly jy in voeling met Afrikaans en veral met hoe die Afrikaanse jeug praat en dinge sien en beleef?
Dis ’n uitdaging, want ek gesels nie daagliks met tieners daar op straat nie. Maar ek’s gelukkig genoeg om vriende te hê met kinders wat bereid is om my vrae te beantwoord — ek stuur gereeld “is dit ’n regte ding wat kinders sê?”-boodskappe aan hulle. Só het ek van “shipping” en “ek’s cooked” geleer. (Al het ek aanvanklik gedink dis iets wat jy met pasta doen!)
Ek het ook ’n groep fantastiese tieners gehad wat my gehelp het tydens die skryfproses. Hulle het nie net taalinsig gegee nie, maar my ook weer herinner hoe dit voel om 15 te wees — die vrese, die druk, die eensaamheid én die humor.
Is tieners anders daar as hier?
Ja en nee. Franse tieners het in baie opsigte meer fisieke vryheid — hulle gebruik openbare vervoer alleen, bly later uit, beweeg met minder ouerlike toesig. Dit klink wonderlik, maar dit beteken nie hulle is beter daaraan toe nie. Hulle worstel ook met aanvaarding, selfbeeld, groepsdruk, en natuurlik sosiale media. Ek dink die platform mag verskil, maar die vrae bly dieselfde: Wie is ek? Maak ek saak?
Wat dink jy daarvan dat nie net tieners nie, maar mense oor die algemeen, eintlik ’n maklike teiken is vir kuberboelie-aanvalle en mishandeling op sosiale media?
Dis beslis nie net tieners wat geteiken word nie. Ek was self aan die ontvangkant van aanlyn-afpersing — ek weet hoe dit voel. Mense is baie braaf agter ’n sleutelbord in ’n
donker slaapkamer. Gaan kyk maar net na die afknouery op sosiale media: siniese kommentaar, persoonlike aanvalle, openbare vernedering.
Verbeel jou jou kind kry vyf of ses van daardie tipe boodskappe per dag — terwyl hulle nog self probeer uitpluis wie hulle is in die wêreld. Dis skrikwekkend.
Wat dink jy kan ons daaraan doen?
Lees boeke soos Web van leuens. Gebruik dit as ’n beginpunt vir gesprekke. Ons móét met kinders praat oor hierdie goed — nie eers wanneer daar ’n voorval is nie, maar lank voor dit. Moenie dink jou kind is so onskuldig soos wat jy hoop nie. Soms is hulle nie die slagoffer nie — maar die een wat druk uitoefen. Ons moet kinders die vrymoedigheid gee om te erken: “Ek was al ’n slagoffer.” want as niemand praat nie, bly hierdie tipe geweld in die donker.
Jy bedryf die Facebookgroep Lekkerleesboekrak, en was aangewys as Media24 se Smaakmaker van die Jaar. Hoe en waarom het jy Lekkerleesboekrak begin?
Ek het agttien jaar terug in Taiwan gesit en elke keer as ek vir ’n kuier teruggaan Suid-Afrika toe, moes ek kies: watter boeke vat ek terug wat ek gaan geniet? Ek het nie plek
gehad vir hope boeke nie — en beslis nie vir boeke wat nie lekker lees nie. Ek het die groep begin met tien lede in 2007, bloot om raad te kry oor watter boeke ek sal kan geniet.
Ek het nooit gedink dit sou groei tot ’n gemeenskap van meer as 12 000 boekwurms wat daagliks saamgesels nie. Dis een van my grootste vreugdes en my naelstring na my taal en haar mense.
Die hele idee agter Lekkerleesboekrak en die gemeenskap daar is om vir mense te wys watter skatte daar in Afrikaanse boeke lê. Ons vra gewone mense om hul indrukke te deel van boeke wat hulle geniet het. Dalk is dit juis die towerkrag: ons fokus op leesplesier. Ons sê nie vir mense wat om te lees nie — ons sê net wat vir óns gewerk het. Omdat 90% van ons Afrikaanse skrywers ook daar saamkuier, wil ons dit ’n veilige ruimte hou.
Wat wil jy hê mense, en veral tieners, moet onthou van Web van leuens?
Wees versigtig vir daardie mooi fototjie wat jy op iemand se Instagram sien. Mense is nie altyd wie hulle sê hulle is nie — en hulle bedoelings is nie altyd so suiwer soos joune nie.
Moenie blindelings vertrou nie. Dink twee keer voor jy iets deel, en voor jy iets aanstuur. Jy weet nooit wanneer jy jouself in ’n taai web bevind nie — een wat jy dalk self help spin het, sonder om dit te besef.



