Ngwathe kry hofbevel teen beplande protesaksie
Die hofbevel kom nadat die munisipaliteit Vrydag ook gewaarsku het dat mense hulle moet weerhou van aktiwiteite wat munisipale aktiwiteite kan ontwrig, of skade aan openbare infrastruktuur kan veroorsaak.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het Vrydag met ‘n dringende aansoek na die hof ‘n bevel van die Vrystaatse Hooggeregshof bekom om ‘onwettige’ beplande protesaksie teen dienslewering te stuit. wat glo op ‘n WhatsApp-groep genaamd “Ngwathe Shutdown” georganiseer is.
Die hofbevel wat bekom is, is ook deur Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamaha vroeër vanmiddag bevestig.
Die saak tussen die Ngwathe munisipaliteit en gemeenskapslede is deur regter C. Reinders aangehoor. Volgens die bevel is die beplande protesaksie onwettig, en het die hof beveel dat die partye teen wie die aansoek gebring is, verbied word om op enige manier in te meng in munisipale aktiwiteite, die werk van kontrakteurs of munisipale beamptes, of die beskadiging van munisipale eiendom, die eiendom van amptenare, politieke ampsdraers, sekuriteitspersoneel of kontrakteurs wat wettig op munisipale eiendom is.
Die hofbevel volg kort nadat die Ngwathe munisipaliteit Vrydagmiddag ‘n verklaring uitgereik het waarin inwoners gevra is om hulle te weerhou van enige aktiwiteite wat dienslewering kan ontwrig, of skade aan openbare infrastruktuur kan aanrig.
“Ons doen ‘n beroep op wetsgehoorsame burgers om saam met ons te werk om infrastruktuur te beskerm,” het die verklaring gelees. Daar is ook gevra dat enige dade van sabotasie, vandalisme of dreigemente vir beskadiging van munisipale eiendom en infrastruktuur, of teen raadslede of die munisipale bestuur, aan die polisie gerapporteer moet word. “Die beskerming van gemeenskapshulpbronne is ‘n gedeelde verantwoordelikheid,” het die munispaliteit beklemtoon.
Die African Congress for Transformation (ACT) het vandag in sy reaksie die hofbevel beskryf as ‘n poging tot intimidasie en nie ‘n oplossing is vir diensleweringsmislukkings.
Die party is van mening dat die hofbevel wat gemeenskapsmobilisering in Ngwathe — insluitend aanlynplatforms soos WhatsApp-groepe — as ‘onwettige protesaksie’ brandmerk, niks minder is as ’n growwe poging tot intimidasie teen inwoners wat bloot hul grondwetlike reg op basiese dienste opeis.
ACT sê in sy verklaring pleks daarvan om chroniese wanbestuur aan te spreek — insluitend watertekorte, kragonderbrekings, vervallende infrastruktuur en korrupsie — kies die munisipaliteit om sy eie inwoners hof toe te sleep.
Ook die drukgroep Save Ngwathe het vanmiddag in ‘n WhatsApp-boodskap waarop die hofinterdink gedeel is, gesê vrees dryf Ngwathe om mense met ‘n interdik te intimideer om hul reg tot vryheid van assosiasie wat in die grondwet vervat is te margenaliseer.
Die Ngwathe Raad het Vrydag ‘n spesiale raadsitting gehad, maar was die dringende aansoek na die hof nie op die agenda geplaas nie. Die munisipale bestuurder en burgemeester het egter sekere bevoegdhede waar noodbesluite wel sonder die raad geneem kan word.
Petisie tot die Appèlhof:
Die Ngwathe munisipaliteit het intussen ook reeds deur ‘n prokureurskrywe kennis gegee van sy voorneme van petisie na die Appèlhof nadat sy aansoek om verlof tot appèl teen ‘n vroeëre hofbeslissing in die Vrystaatse Hooggeregshof om die munisipaliteit onder administrasie te plaas en die Ngwathe Raad te ontbind, van die hand gewys is.
Dit beteken dat die vroeëre hofbeslissing deur regter JP Daffue steeds nie tot uitvoer gebring kan word nie, hangende die appèlproses.
AfriForum het intussen vroeër die week aangedui dat hy ’n aansoek in terme van artikel 18(3) van die Wet op Hoër Howe 10 van 2023 sal bring om te vra dat die hofbevel van die Vrystaatse Hooggeregshof wat op 20 Junie deur regter Daffue gemaak, intussen uitgevoer word.



