Atlete genooi na Blitz-atletiek dié week
Deelname aan die byeenkoms is gratis, en die ideale geleentheid om uit die wegspringblokke te kom vir die atletiekseisoen.
Hoërskool Parys bied Woensdag 3 September ‘n Blitz-atletiekbyeenkoms op sy sportveld aan. Deelname is gratis en die ideale geleentheid om uit die wegspringblokke te kom vir die atletiekseisoen.
Atlete in die ouderdomsgroepe o9, o11, o13, o15 en o19 kan inskryf,. Geen vooraf inskrywings word gedoen nie.
‘n Atleet mag slegs in een ouderdomsgroep deelneem. Daar is geen beperking op die aantal atlete in ‘n item nie, en daar is sertifikate vir die eerste, tweede en derde plek wenners in elke item.
Atlete meld aan by die onderskeie punte op die dag van die byeenkoms.
Enige atleet in die genoemde ouderdomsgroepe is welkom, en beloof dit ‘n heerlike gemeenskapsbyeenkoms te wees waar atlete onder die spreiligte sal deelneem terwyl ouers welkom is om die kinders te kom ondersteun en saam te kuier en te braai langs die veld. Daar sal ook ‘n snoepie wees.
Die 2 000m, 60m, 600m, 150m en 300m baanitems word vanaf 17:00 aangebied.
Die hoogspring en diskusgooi-items is ook vanaf 17:00, en die verspring en gewigstoot-items vanaf 18:00.
Items volg op mekaar na elke oouderdomsgroep die spesifieke item voltooi het. Daar is nie ‘n vasgestelde tyd nie. Om 17:00 word die 2 000m gehardloop waar al die ouderdomme saam hardloop. Direk na die 2 000m beweeg atlete na die 60m merk toe. Atlete hardloop in ouderdomsgroepe die items soos volg: 60m, 600m, 150m en 300m.
Die byeenkoms sal teen 19:00 eindig.
Skole is baie welkom om hul atlete te bring vir die byeenkoms. Vir navrae kan Lizanne du Toit geskakel word by 071 704 2786.




