Leukemie – die meeste gediagnoseerde kinderkanker in SA
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie word jaarliks sowat 400 000 nuwe gevalle van kinderskaner aangemeld, waarvan sowat 1 000 in Suid-Afrika voorkom. Plaaslik is leukemie die mees gediagnoseerde kinderkanker

September fokus op bewusmaking oor kinderkanker. Volgens die Nasionale Karker Register (NKR) is kinderkanker wêreldwyd een van die hoofoorsake van siekteverwante kindersterftes.
Vroeë opsporing en bewusmaking is van kardinale belang om oorlewingsyfers te verbeter. Te veel kinders word laat of glad nie gediagnoseer nie. Suid-Afrika ondersteun die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Global Initiative for Childhood Cancer (GICC), wat ten doel het om teen 2030 oorlewingsyfers beduidend te verhoog. Hoewel die nasionale oorlewingsyfer reeds tot sowat 60% verbeter het, bly dit agter by lande waar die syfer bo 80% is.
Gesinne van kinders met kanker staar reuse sielkundige, emosionele, finansiële en logistieke uitdagings in die gesig. Hierdie las raak nie net die pasiënte nie, maar ook ouers, sibbe en versorgers.
Mnr. Hedley Lewis, uitvoerende hoof van Childhood Cancer Foundation South Africa (CHOC) vertel dat September, internasionaal bekend is as Gold September, en word daar dan gefokus op bewusmaking oor kinderkanker. Die goue lint is ’n wêreldwye simbool wat krag, veerkragtigheid en hoop simboliseer: “Elke lint herinner ons daaraan dat geen kind of tiener alleen deur kanker behoort te gaan nie.
By CHOC word daar geglo in die krag van samewerking – saam kan ons uitkomste verander.”
Prof. Gita Naidu, v hoof van Pediatriese Onkologie by Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal, benadruk: “Gesinne word uitmekaar geskeur deur ’n kankerdiagnose. Ons vra alle sektore van die samelewing om hierdie gesinne deur volgehoue steun by te staan.”
Die WGO se landverteenwoordiger in Suid-Afrika, Me. Shenaaz El-Halabi, voeg by: “Agter elke diagnose is ’n kind met drome en ’n gesin met hoop. Te veel kinders word te laat gediagnoseer. Daarom staan die WGO trots saam met die Departement van Gesondheid en CHOC – want saam kan ons die storie van kinderkanker verander van wanhoop na hoop.”
Ter ere van Kinderkanker-Bewusmakingsmaand word alle sektore – publiek, privaat, gemeenskappe en individue – aangemoedig om die goue lint te dra, verhale te deel en te help om bewusmaking te verhoog. Laat ons saam toesien dat geen kind alleen teen kanker veg nie.



