Kragrekeningslenter: Betaal gou voor ons afsny
Kuberbedrog en aanlynslenters kos mense duisende rande dikwels weens onkunde en impulsiwiteit.
Die Ngwathe munisipaliteit wys inwoners daarop dat personeel van die munisipaliteit se tegniese afdeling jou nooit direk telefonies sal kontak om te vra dat jy ‘n elektroniese oorplasing in ‘n rekening maak omdat jou kragrekening agterstallig is nie.
Dit volg nadat ‘n inwoner Vrydag weer met dié skelmstreek gevang is. Iemand wat hom voorgedoen het as ‘n ene Eddie het die inwoner telefonies gekontak en gesê dat ‘n bedrag uitstaande is op sy rekening en dat die span sy kragtoevoer gaan afsny. ‘n Rekeningnommer word dan voorsien en gevra dat die bedrag dringend betaal word.
Die boodskap is ook met WhatsApp boodskappe opgevolg, en is selfs foto’s gestuur waar die span oënskynlik besig is om kragtoevoer by ander adresse af te sny.


Die rekeningnommer wat in die WhatsApp-bootskappe genoem word, is gelys as Distribution Energy Power Supply Revenue Creditors Control .
Ngwathe rdl. Marie la Cock het nadat die inwoner dit onder haar aandag gebring het, opgevolg met die munisipale bestuur en die tegniese departement van die munisipaliteit. Dit is bevestig dat wanneer verbruikers agterstallig is met hul kragrekeninge, ‘n skriftelike kennisgewing uitgestuur word wat die verbruiker dan geleentheid gee om binne die kennisperiode ‘n betaling te maak, alvorens kragtoevoer gesny word.
Dié geval wat die afgelope week aan rdl. La Cock gerapporteer is, was volgens die polisie ook nie die eerste keer dat dié slenter kop uitsteek nie.

Maak seker:
Jou beste beskerming teen hierdie slenterstreke is om seker te maak alvorens jy enige gelde oorbetaal of boodskappe antwoord.
- Gaan maak self seker by die munisipale kantore of jou rekening agterstallig is.
- As daar geld uitstaande is, verifieer die munispale bankrekeningnommer alvorens jy enige betalings maak.
- Moenie net op WhatsApp, SMS of telefoniese boodskappe reageer van nommers wat jy nie ken nie.
- Gaan alle inligting noukeurig na voordat jy sommer net uit vrees, manipulasie of onkunde gehoor gee aan versoeke om persoonlike inligting te gee of elektroniese geldoorplasings te doen.
- Jy kan ook met jou raadslede gesels as jy onseker is oor of wat van jou gevra word wel in lyn is met die munisipale beleid.



