Papierprodukte: Wat kan jy herwin, en wat nie
Studie wys meer mense herwin.
Tot 20% van mense erken hulle herwin nie, maar sê hulle sou dit graag wou doen. Dit is volgens ‘n onlangse opname deur die Paper Manufacturers Association of South Africa (PAMSA)
Die opname het wel bemoedigende tekens getoon: 81% van die respondente verstaan duidelik watter produkte herwinbaar is (’n styging van 78% in 2023), en 74% het gesê hulle herwin papier en karton gereeld of af en toe. Sowat 69% het aangedui dat hulle papier-gebaseerde verpakking soos afleweringsbokse, kosverpakking en drankkartonne herwin. Slegs 5% het gesê hulle herwin nooit hul papier- en kartonprodukte nie.
Volgens PAMSA versamel die papierherwinningsbedryf jaarliks sowat 1,2 miljoen ton papier en papierverpakking, wat van die land se vullisterreine weggestuur en omskep word in nuwe verpakkings- en sneesdoekprodukte.
“Die manier om die gaping te oorbrug, is deur verbruikers aan te moedig om produkte verantwoordelik weg te gooi,” verduidelik Samantha Choles, PAMSA se kommunikasiebestuurder

“Die meeste papierprodukte kan herwin word, maar daar is ’n paar uitsonderings – hoofsaaklik as gevolg van afwerkings, bedekkings, materiaal-samestelling of besoedeling deur kos,” sê sy, en voeg by dat dit die beste is om na die etiket op die papierproduk te kyk as mens onseker is.
Hier is ’n lys van papierprodukte wat nie herwin kan word nie:
-
Sneesdoekies
-
Papierhanddoeke
-
Servette
-
Toiletpapier
-
Besoedelde of vuil papier
-
Papierborde en bekers met kosreste
-
Wasagtige kitskos-verpakkings
-
Nat papier of karton
-
Sement-sakke (weens sementresidu)
-
Papier met gemengde materiale, plastiek-lae en laminering
-
Gelamineerde kantoorpapier
-
Foto’s
-
Wasbedekte papier (bv. sommige vrug- of vleisverpakkings)
-
Foelie- of plastiekgevoerde papier of geskenkpapier
-
Koeverte met plastiekvensters (sommige fasiliteite kan dit wel hanteer)
-
Koeverte met borrelplastiek-binnevoering
-
Papier met glinster, metaalink of versierings
Verwyder sover moontlik alle nie-papier elemente van jou herwinbare papier. Dit sluit in kleefband, plastiekvoering, metaal- of plastiekbinders, krammetjies en papierknippies.
“Hoewel daar deurlopende navorsing en ontwikkeling is om die hantering van ’n wyer reeks papierverpakking te verbeter, kan die huidige tegnologie nie groot hoeveelhede nie-papier-elemente verwerk nie, aangesien dit die masjinerie kan beskadig,” sê Choles.
Wat kan jy herwin?
-
Kantoor-/kopieerpapier
-
Bruin kartondose
-
Inkopie- en wegneemsakke
-
Graanbokse, medisynebokse, ens.
-
Pizza-bokse
-
Tydskrifte en koerante
-
Eierhouers en vesel-koppiehouers
-
Binnekerns van toiletrolle, kombuispapier, geskenkpapier, kleefplastiek en foelie
-
Melk- en vrugtesap-kartonne – verwyder die plastiekdoppies, spoel liggies uit en druk plat
-
Papierbekers
Skep ’n eenvoudige skeidingstelsel met dromme vir vullis en dromme vir herwinning. Dit sorg dat jou herwinbare papier en karton nie nat of vuil raak nie, en in goeie toestand bly totdat dit die herwinningsaanleg bereik. Hierdie dromme kan ook in ander vertrekke van die huis geplaas word, nie net in die kombuis nie.



