Polisie maak deurbraak in diefstal van trok-bande
Die arrestasie is 'n groot deurbraak in die ondersoek na die diefstal van trok-bande in die Vrystaat-, Gauteng- en Limpopo-provinsies.
Die polisie het Donderdag vier mans in hegtenis geneem in wie se besit trok-bande gekry is waarvoor hulle geen bevedigende verduideliking kon gee nie.
Polisielede van Sasolburg in samewerking met Hoofwegpatrollielede van Kroonstad en die Fezile Dabi-distrik, en ander eenhede, het die oggend inligting gekry van ‘n vragmotor wat vermoedelik verbind kon word met die diefstal van trok-bande in die Vrystaat-, Gauteng- en Limpopo-provinsies.

‘n Lokval is gestel en is die vragmotor op die N1 in die rigting van Gauteng opgemerk. Ná ‘n jaagtog kon die polisie daarin slaag om die vragmotor voor te keer en tot stilstand te bring. Die trok-bande is agter op die voertuig gekry, en is die vier mans tussen die ouderdom van 26 en 36 jaar gearresteer.
Hulle sal voor die Parys-landdroshof verskyn op klagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.




