Klagte by DESTEA oor omstrede Wonderfontein-ontwikkeling
AfriForum eis dat die betrokke departemente dringend ingryp, om die Wonderfontein-ontwikkeling buite Sasolburg stop te sit totdat alle vereistes nagekom is, en dat nalatige amptenare en ontwikkelaars aanspreeklik gehou word.
Die stof het nog nie gaan lê oor die omstrede Wonderfontein-ontwikkeling buite Sasolburg nie. AfriForum se regsspan het ’n omvattende klagte van meer as 100 bladsye op 9 September aan dr. Mbulelo Nokwequ, hoof van die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea), gestuur oor die ontwikkeling. Die klagte sluit die gemeenskap se bekommernisse, bewyse van nalatigheid rakende die ontwikkeling, en die volledige regsagtergrond in, sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.
Grobbelaar het ook bevestig dat die klagte benewens DESTEA, ook aan die direkteur-generaal van die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye gestuur is, en dat gevra is vir ‘n dringende ondersoek. Die departemente het tot 29 September om op die klagte te reageer. AfriForum sê hy sal verdere stappe neem as terugvoer nie ontvang word nie.
AfriForum lig in sy klagte verskeie ernstige onreëlmatighede rakende die ontwikkeling uit waaronder die kwessie dat die projek voortgaan sonder dat die nodige tribunaalvereistes nagekom is, ’n gebrek aan infrastruktuur soos byvoorbeeld stormwaterstelsels, padnetwerke en rioolstelsels, en die “groot hoeveelhede grondwater wat uitborrel waar swaar masjinerie gebruik word. AfriForum sê in ‘n verklaring dit noop die ontwikkelaar om die water na ’n nabygeleë plaas af te pomp.
Die burgerregte organisasie sê hy kon geen volledige en bygewerkte Omgewingsimpakstudie vir die ontwikkeling bekom nie. Die organisasie sê verder die enigste beskikbare dokument dateer uit 2009, toe die ontwikkeling slegs 3 000 erwe behels het. Die huidige projek is vergroot na 8 000 erwe, wat nagenoeg 30 000 mense insluit, het AfriForum aangedui.
Dit terwyl die Metsimaholo-munisipaliteit se vullisterrein reeds nie aan die minimum wetlike vereistesvoldoen nie. AfriForum is van mening dat die ontwikkeling net verdere druk op vullisdienste gaan plaas.

Intussen duur AfriForum se hofsaak teen die Metsimaholo-munisipaliteit, die departement van Menslike Nedersetting en die minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling voort, waarmee die organisasie hoop dat dit tesame met die nuwe klagte, sal help om die ontwikkelingsprojek stop te sit totdat alle wetlike vereistes en vereistes rakende infrastruktuur nagekom word, is gesê.
Grobbelaar het in sy kommentaar benadruk dat die ontwikkeling volgens AfriForum nie tot voordeel van die gemeenskap is nie, en dat dit die potensiaal inhou om die omgewing onherstelbaar te beskadig. “Die reeds besoedelde Vaalrivier loop die gevaar om verder besoedel te word indien riool en afval nie behoorlik bestuur word nie, het hy gesê.
Ons gaan nie stilsit terwyl onwettige prosesse en swak beplanning die toekoms van die gemeenskap en die omgewing in gevaar stel nie,” het Grobbelaar gesê.



