Kruger 200: Duisende stroom na historiese erfenisfees
Die Kruger-beeld sal Maandag 29 September by Udolpho net buite Parys wees.
Wat begin het as ’n droom om die 200ste herdenking van oudpresident Paul Kruger se geboorte te herdenk, het uiteindelik gegroei tot een van die mees kleurryke, statige en gedenkwaardige feeste wat tot nog toe by die Voortrekkermonument gehou is, en deur meer as 6 000 mense bygewoon is.
In aanloop tot die groot dag wat vandag op Erfenisdag, 24 September, by die Voortrekkermonument in Pretoria gevier is, is die monument se vooraansig ’n maand voor die tyd met meer as 200 meter rooi, wit, blou en groen lap gedrapeer – die amptelike kleure van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR).
’n Brons-ewebeeld van die Paul Kruger-standbeeld, soos dit tans op Kerkplein, Pretoria, staan, het die duisende feesgangers, toeriste en besoekers van reg oor die land, asook internasionale en plaaslike media, op die Markplein verwelkom. Die feesruimte voor die monument was gevul met ’n atmosfeer wat tegelykertyd feestelik én plegtig was.
Die standbeeld, meesterlik gegiet en fyn afgewerk, is bestem om in Orania op die nuwe stadsplein opgerig te word. Dié beeld gaan van môre af deur die land toer en kan op verskeie dorpe besigtig word, waaronder ook Parys, voordat dit op 10 Oktober – Kruger se geboortedag – in Orania onthul sal word.
Die beeld, saam met sy voetstuk troon meer as 10 meter hoog.
Die vertrek van die beeld vanaf die Voortrekkermonument na Orania is ’n historiese gebeurtenis en het groot belangstelling gelok.

Feesprogram vol kleure en klanke
Die Kruger 200- Presidensiële Partytjie het aan feesgangers ’n ryke en uiteenlopende program gebied wat oud én jonk in vervoering gehad het. Valskermsweeftuie wat vroeg die dag om die Monument gesirkel het, het ‘n asemrowende gesig gebied.
Tweehonderd stalletjies het die Markplein stampvol gestaan en alles van tradisionele smulgeregte tot fyn handwerk gebied. Die gaste kon hulle verkyk aan swierige boeredanse en statige Volkspele, terwyl twee lewendige boereorkeste die gees hoog gehou het.
Daar was ook n prettige kinderprogram met ’n Kruger-kleurloop, ’n Kruger-skattejag, ponieritte, kameelritte, kettieskiet en ’n inkleurkompetisie.
Feesgangers kon hulle verwonder aan honde-, perde- en brandweerdemonstrasies, asook die Voortrekkers se opedag.

Ander hoogtepunte was ’n toneelopvoering, Kruger breek die pad oop, deur NP van Wyk Louw. Hierdie toneel handel oor Kruger se lewe, ‘n amperse burgeroorlog, sy geloof en sy rol in die geskiedenis van die ZAR. Dit het die gehoor aangegryp en met nuwe waardering
laat terugdink aan dié staatsman se ryk nalatenskap.
Dan was daar die spoggerige staatsbanket in die Kruger-galery en ’n Tant Gezina-teetuin en – mark in die FAK se Afrikaanse liedjietuin, aangebied deur die Dameskring.
Om 11:00 het Oom Paul (oftewel Louis Engelbrecht, voorsitter van die Krugergenootskap) en tant Gezina (Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media) op ’n koets die terrein binnegery waarna heerlike koffie en verjaarsdagkolwyntjies geniet is. ‘n Optog met veteraanmotors, Voortrekkers, ‘n pelaton met K9-honde en sekerheidsvoertuie het voor en agter hulle die terrein inbeweeg. Om 12:00 het ’n reeks kanonsalvo’s, ook in die vier kleure
van die ZAR, die atmosfeer deurdrenk om oom Paul met hierdie spesiale mylpaal geluk te wens.

Gezina (Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media) ry die markplein binne in ‘n
koets. Die drywer is Taco Kamstra (Foto: Mareli Bothma)
Later die middag het feesgangers bymekaargekom vir dr. Carel Boshoff, direksievoorsitter van die FAK, se groeteboodskap aan Oom Paul. waarna ‘n parade voor oom Paul verbybeweeg het om hom geluk te wens.. Die parade was ’n indrukwekkende vertoning van ’n perdekommando, veteraanmotors ‘n peloton met K9-honde, Boeredansers, Oom Paul en tant Gezina op ‘n koets en sekerheidsvoertuie.

Oom Paul het daarna ook op kerkplein aangedoen.




