Brandwagte op Kerkplein gevandaliseer
Die vandalisme aan die beeldegroep was op die vooraand van die vertrek van 'n presiese replika van die Paul Kruger-beeld wat in Orania opgerig sal word.
Vandale het kort voordat die replika van die Paul Kruger-standbeeld op Erfenisdag, 24 September, vanaf die Voortrekkermonument na Orania vertrek het, groot skade aan twee van die brandwagte aangerig, wat deel vorm van die oorspronklike Paul Kruger-beeldegroep op Kerkplein in Pretoria.
Dit is die hoeveelste keer dat die beeldegroep beskadig is.

Die presiese replika van die Kruger-beeld het gister in Parys aangekom waar ‘n luisterryke program op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite die dorp aangebied is. Vanaf Parys sal die beeld vandag na Heilbron vertrek waar ‘n program by die Vegkop-terrein aangebied sal word.
Die beeld in brons gegiet, wat saam met sy voetstuk 10 meter hoog staan, word op 10 Oktober, op Kruger se 200ste verjaardag in Orania onthul.
Inwoners van die dorpe waar gestop is onderweg na Orania kon as deel van die Kruger-feestoer die opvoering van die NP van Wyk Louw-toneelstuk, ”Kruger breek die pad oop” sien. Die toneelstuk handel oor die lewe van Kruger en die harde besluite wat hy moes neem om wet en orde in Transvaal te bring.
Die Kruger feesprojek is aangepak deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) en die Orania Ontwikkelingsmaatskappy (OOM), tewyl die Orania Kunsteraad (OKeR) vir die toneelopvoering verantwoordelik is.



