Beplan jy om weg te gaan vir die vakansie – kyk hierna
Raak betrokke by jou bure en rapporteer verdagte bewegings in jou woonbuurt. Misdaad neem tradisioneel toe oor die Feestyd, en moet jy juis nou ook kyk na veiligheid by jou huis as jy beplan om Desember met vakansie te gaan.
Al lê daar nog ‘n hele paar weke oor voor die feestyd, het baie al hul Desember-vakansieplanne agter mekaar. Ongelukkig is baie van ons so besig met ons vakansiereëlings dat ons basiese veiligheidswenke agterweë laat.
Maak seker jy kyk hierna voordat jy op vakansie gaan:
- Toets jou alarm ten minste ‘n maand voor jou vertrektyd.
- Laat weet jou buurtwaglede en sekuriteitsmaatskappy wanneer jy vir ‘n tyd lank weggaan, en ook sou jy vroeër terugkom. Maak ook seker hulle het ‘n kontaknommer waar hulle jou kan skakel.
- Los ‘n sleutel by bure of vriende.
- Vra bure of vriende om die posbus gereeld leeg te maak van gemorspos, en maak seker hulle weet as daar iemand in jou huis sou bly vir die tydperk wat jy weg is.
- Installeer ‘n tydskakelaar vir verskillende ligte (binne en buite), asook die radio en/of TV, of versoek bure of vriende om op verskillende tye die ligte aan en af te skakel.
- Dit is selfs ‘n gawe plan dat bure of vriende so nou en dan op jou perseel braai. Sodoende maak jy seker dat jou huis nie stil en verlate lyk nie.
- Reël dat jou gras so nou en dan gesny word.
- Belangrike of waardevolle dokumente en materiaal byvoorbeeld versekeringspolisse en juwele moet liefs by ‘n bank in veilige bewaring gehou word.
- Moenie sleutels binne-in ‘n buitedeur los of onder ‘n potpant of deurmat nie.
- Beveilig skuifdeure om te verhoed dat dit uit die raam gelig kan word.
- As jy pas by ‘n huis of woonstel ingetrek het, vervang al die buitedeure se slotte.
- Jy kan ook jou bure, vriende of buurtwag vra om vooraf saam met jou seker te maak dat daar nie enige swak plekke is wat toegang na jou erf of huis maklik maak nie.
- Maak seker dat alle vensters op knip is, en dat jy nie vensters sommer net ooplos nie – selfs nie eens vir katte nie.
- Gordyne kan bedags oopgemaak word en moet weer snags toegemaak word.
Diefstal van koper en hekmotors:
- Die polisie in Parys het die afgelope week weer gewaarsku dat diefstal van koper, watermeters en hekmotors op die oomblik weer ‘n groot kopseer is. Meld asseblief verdagte bewegings en voertuie in jou omgewing aan. Hierdie inligting help die polisie om patrollies op te skerp in woonbuurte waar die misdaad gerapporteer word.
- Waak daarteen om jou asblliksakke vroeër uit te sit. Dit veroorsaak meer beweging wat weer kan bydra tot misdaad.
Raak betrokke:
Vrydagaad het Parys SAPD en die gemeenskap weer hande gevat vir ‘n gesamentlike blou lig/wit lig patrollie. Die patrollies word maandeliks in Parys gehou en behels dat die polisie en gemeenskap hande vat vir meer sigbaarheid en help meer oë en ore om die polisie se hand te sterk in die stryd teen misdaad.

Dit is oor en oor bewys dat buurtwagpatrollies en betrokkenheid van bure help om misdaad te bekamp. Kry jou bure se telefoonnommers en laat weet hulle sou jy iets vreemds in jou omgewing of jou buurman se erf opmerk.
Stoor hierdie nommers




