Nuwe baadjie en opwindende planne vir Parys Info
Parys Info & Tourism sal verskeie opwindende en interaktiewe aktiwiteite vir besoekers bied wat beslis 'n besoek hier die moeite werd sal maak.
Opwindende planne en ‘n nuwe perseel wag vir Parys Info & Tourism wanneer daar eersdaags ingetrek word by hul nuwe perseel regoor Parys SAPD in die dorp se hoofstraat. Die pragtige gebou met sy besondere karakter sal in ‘n toerismesentrum van formaat omskep word wat elke besoeker aan die dorp sal nadertrek met opwindende en interaktiewe toerisme aktiwiteite, en uitstallings wat ‘n vertoonvenster sal wees van die hartlikheid van die gemeenskap van Parys, en wat die besondere Vrystaatse dorp aan die oewer van die Vaalrivier jou bied.
Die nuwe gebou is moontlik gemaak danksy Mike Fourie en Philip Visser. Verlede week is saam met die gemeenskap, instansies en rolspelers in die gasvryheidsbedryf koppe bymekaar gesit vir idees vir die nuwe toerismekantoor wat na verwagting teen einde Oktober sy deure in Breëstraat sal oopmaak.
Wat jy kan verwag is ‘n kleurvolle toerismekantoor, sentraal geleë met baie om te doen, en waar mense tyd kan spandeer, heerlike koffie kan geniet en unieke foto’s sal kan neem wat iets weergee van die dorp se karakter.
Die gedagte is ook om ruimte te skep vir plaaslike kunstenaars om hul werk uit te stal en waar mense funksies, markte en gesellighede kan hou.
Daar is voorstelle vir oudiovisuele en interaktiewe uitstallings, en inligting waar jy kan leer van die dorp, sy geskiedenis en die Vredefort Koepel Wêrelderfenisterrein.
Daar sal gekyk word na buitelug aktiwiteite om ook die dorp se avontuur toerismebedryf bekend te stel. Daar is planne om ‘n museum-atmosfeer te skep om te pas by die historiese karakter van die huis.
Parys was ook nog altyd bekend as ‘n dorp met vele unieke winkels en restaurante wat soos krale ingeryg langs die hoofstraat besoekers nooi om hier stapskoene aan te trek en die dorp te gaan verken. Daarom sal gekyk word na ‘n moontlike pendeldiens vanaf die toerismekantoor.
Die splinternuwe baadjie van die dorp se Info-kantoor wat oor jare ‘n baie waardevolle diens gelewer het om die dorp te bemark, kom op die ideale tyd met Parys wat in 2026 sy 150ste bestaansjaar vier. ‘n Feestelikheid soos min met die Info-kantoor wat kleurvol en sigbaar die feesvlam hoog sal laat brand, en graag wil saamwerk met besighede en instansies om Parys se toerismepotensiaal selfs nog meer te ontsluit.



