Kinders sterf in tragiese botsing onderweg terug ná kerkdiens
Verskeie beseerdes van wie die meeste kinders, is van die toneel vervoer na mediese fasiliteite in Viljoenskroon en Kroonstad.
‘n Noodlottige botsing op die R76 naby Viljoenskroon het vanaand die lewens van drie kinders ge-eis.
Volgens Sipho Towa, voorsitter van RIMS (Road Incident Management System) en die Vrystaatse Nood Mediese Dienste, het die ongeluk rondom 19:00 vanaand gebeur toe die bestuurder van ‘n 7-sitplek voertuig wat van ‘n kerkdiens in Kroonstad onderweg terug na Sasolburg was, beheer oor die voertuig verloor het. Geen ander voertuie was in die botsing betrokke nie.
Naas die drie kinders wat in die ongeluk gesterf het, het nog twee kinders kritieke beserings oopgedoen, terwyl ses ander minder ernstige en ligte beserings opgedoen het. Twee volwassenes is ook beseer.
Die beseerdes is na die PAX gemeenskapsentrum in Viljoenskroon, en die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad vervoer, het Towa gesê.
Nooddienste en wetstoepassers was met die skryf van hierdie berig steeds op die botsingstoneel.



