Local newsNews

Voorgestelde Wetsontwerp op Vuurwapenbeheer: Onregverdige las vir wetsgehoorsame burgers

TLU SA is van mening dat die wetsontwerp min doen om wetsgehoorsame burgers te beskerm, en misdaad met onwettige vuurwapens aan te spreek.

Voorgestelde wysigings op die wetsontwerp op vuurwapenbeheer kan verreikende gevolge inhou vir onder meer die sport- en jaggemeenskap wat betref die voorgestelde wysigings op die aantal vuurwapens wat vuurwapeneienaars mag besit, en nuwe beperkings op sekere semi-outomatiese wapens, en selfs op ammunisie.

Die Transvaalse Landbou Unie sê hoewel hy sy volle steun gee aan maatreëls wat gemik is op die bekamping van onwettige vuurwapens en georganiseerde misdaad, die voorgestelde wetsontwerp op vuurwapenbeheer, die verkeerde teiken het.

Die organisasie sê  die besperkings raak ook nie net die sport- en jaggemeenskap  nie, maar ook boere en ander burgers wat hulself daagliks teen misdaad moet beskerm

Een van die grootste kommerpunte van die Firearms Control Amendment Bill 2025, is dat die ontwerp die vereistes vir ’n selfverdedigingslisensie drasties vernou. Landsburgers sal slegs onder “uitsonderlike omstandighede” in aanmerking kom, wat beteken dat gewone Suid-Afrikaners, veral dié in afgeleë gebiede, feitlik van hul reg tot selfverdediging ontneem word, sê die organisasie.

Nasionale ballistiese databasis

Die wetsontwerp stel voor dat alle vuurwapens aan ’n nasionale ballistiese databasis onderwerp moet word. Hierdie proses is duur, uiters kompleks en in ’n land met beperkte administratiewe kapasiteit, waarskynlik onuitvoerbaar, meen TLU SA.

Die organisasie sê dat die bepaling min doen om misdaad met onwettige wapens te beperk, maar sal die wettige vuurwapeneienaar met onnodige koste en burokratiese laste belas.

Volgens TLU SA bly die feit staan dat die oorgrote meerderheid gewelddadige misdade in Suid-Afrika met onwettige wapens gepleeg word, en nie met geregistreerde vuurwapens nie.

Hoewel daar enkele positiewe voorstelle is, soos die voorstel vir gereelde integriteitstoetse vir aangewese vuurwapenbeamptes, sê TLU SA die voorstelle doen min om korrupsie te beperk en die stelsel te verbeter, en kan nie die balans herstel in ’n wetsontwerp wat  daarop gemik is om die wettige vuurwapeneienaar se regte te verswak nie.

“Plaasaanvalle, gewelddadige misdaad, en die vrees waarmee miljoene Suid-Afrikaners daagliks leef, is nie die gevolg is van té veel wettige wapens nie, maar van ’n tekort aan regeringstoesig en politieke wil,” sê die organisasie.

TLU SA vra dat

  • die regering die proses opskort totdat ’n behoorlike onafhanklike impakstudie voltooi is,  wat die realiteite van landelike veiligheid, sportskiet en jaggemeenskappe in ag neem.
  • die wetsontwerp herwerk moet word om onwettige wapens op te spoor, die beveiliging van staatswapenkamers, en die herstel van polisievermoë.

Die organisasie sê hy sal saamwerk met ander organisasies wat sy standpunt deel om ’n goed beredeneerde, feitgebaseerde reaksie voor te berei om aan die Minister en die Parlement voor te lê.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button