Riviertragedie: Tweede liggaam gekry
Die liggaam van die derde slagoffer is nog soek.
Dae nadat twee mans en ‘n jeugdige Sondagmiddag in die Vaalrivier by Parys verdrink het, is ‘n tweede liggaam, vroeg vanoggend by die Mimosa Tuine uit die Vaalrivier gehaal. Dit volg nadat die eerste liggaam laat gistermiddag in Fickstraat deur lede van die polisie se K9 Soek- en Reddingseenheid van Sasolburg, uit die water gehaal is.
Daar word nog gesoek na die derde liggaam.
Die tragedie het hom Sondagmiddag om ongeveer 14:00 naby Parys se geskiedkundige hangbrug oor die Vaalrivier tydens ‘n doopseremonie afgespeel.
Die rivier loop baie sterk by die stroomversnellings by ‘n klipplaat naby die brug waar die mans deur die water meegesleur is.
Die mans was van Potchefstroom.

Daar is sedert Sondag onverpoosd na die liggame gesoek, en is die eerste liggaam rondom 17:00 Woensdagmiddag deur adjudant-offisier Hollie Holtzhausen uit die water gehaal.





