Water styg verder by brug
Wees bedag op vloedwaarskuwings vir paaie en beplan jou roete dienooreenkomstig.
Die watervlak van die Vaalrivier by die Schoemansdriftbrug in die Vredefort Koepel het sedert vanoggend nog verder gestyg.
Volgens Sue Janse van Rensburg het die watervlak by die brug teen 17:30 2,55m gemeet en watervloei van die rivier is toe hier teen 1 228 kubieke meter per sekonde gemeet. Bakkies kon toe nog oor die brug ry, maar is motoriste gewaarsku dat water oor die brug vloei.
Sodra die watervlak 2,6m by die brug meet en watervloei styg na 1 267 kubieke meter per sekonde, sal die brug vir alle verkeer gesluit word.

Teen vanoggend 05:30 was die watervlak by die brug nog gemeet op 1,6m en watervloei teen 561,2 kubieke meter per sekonde. Teen 09:00 het die prentjie heelwat verander en is die watervlak gemeet op 2,35m en watervloei gemeet op 1 267 kubieke meter per sekonde.
Teen 14:00 vanmiddag was die watervlak gemeet op 2,4m en watervloei teen 1 115 kubieke meter per sekonde.
- Daar is ook weer gewaarsku oor die R720 Koppies/Edenville grondpad wat weens swaar reën verspoel is. Veral vragmotors kan glad nie die pad gebruik nie.

- R59: Wees bedag op groot en diep slaggate op die gedeeltes by die Vaalpark-afrit, tussen die N1-oorbrug en Parys, tussen Parys en Vredefort en duskant Vredefort in die rigting van Kroonstad.



