Local newsNews

Toeriste wil sien, hoor en beleef

Ekotoerisme gaan nie net oor bewaring van die omgewing nie, maar ook oor bewusmaking.

Toeriste het ‘n behoefte aan ‘n unieke belewenis van plekke wat besoek word. Dit vra kreatiwiteit van die toerisme- en gasvryheidsbedryf om ‘n multi-sensoriese ervaring aan die toeris te bied. Mense wil nie net sien en hoor nie, hulle wil dinge beleef.

Professor Peet van der Merwe van die Noordwes-Universiteit se Skool vir Toerismebestuur het tydens die Vredefort Koepel Bewarea se jaarvergadering praktiese raad gegee vir die ontsluiting van die Vredefort Koepel se toerismepotensiaal met spesifieke fokus op ekotoerisme.

Van der Merwe sê die sogenaamde slow travel neiging word al meer gesien met mense wat minder besoekpunte inpas, maar langer bly vir ‘n dieper interaksie met dit wat uniek is tot ‘n omgewing. Dit sluit dikwels ‘n kombinasie van ekotoerisme, die natuur, en gesondheids- en terapiesessies in.

Prof Peet van der Merwe.
Prof Peet van der Merwe.

Dinge soos om te leer broodbak, die kunste, kooksessies, en selfs eerstehandse ervaring van die plaaslewe is byvoorbeeld gewild onder toeriste. Mense wil in kleiner groepe, of as families eksklusiewe ervarings beleef.

Bied jou toeris ‘n verskeidenheid van pakkette aan wat aangepas kan word na gelang van behoefte, besoekersgetalle belangstelling en beskikbare tyd van die toeris, was sy raad. Dit kan byvooorbeeld ‘n geologie uitstappie, voëlkyk, ‘n bewaringsaktiwiteit en besoek aan die plaaslike gemeenskap insluit, het hy gesê. Kyk ook na minder bekende roetes en besoekpunte wat tussendeur die bekende bakens van ‘n omgewing die toeris se aandag kan vasvang.

Daar is groot vraag na plekke waar mense digitale detoks kan doen en kan wegbreek van die alledaagse gewoel in ‘n stil omgewing waar ontspanning en die natuur saamgevoeg word.
Sy raad was ook dat die toerisme- en gasvryheidsbedryf meer bedag moet wees op koolstofvoetspore wat agtergelaat word, omdat mense ‘n groter bewustheid het vir bewaring. “Ekotoerisme bied baie opwindende moontlikhede maar die potensiaal daarvan word nog nie deur die bedryf ten volle benut nie,” het Van der Merwe gesê.

Toeriste sal eersdaag die Crater Camino kan stap.
Toeriste sal eersdaags ook die Crater Camino kan stap Foto: Verskaf

Ekotoerisme sluit ook nie net die bewaring van die omgewing in nie, maar ook die volhoubaarheid en welsyn van plaaslike gemeenskappe, interpretasie en bewusmaking van die omgewing by personeel en besoekende gaste. Van der Merwe het daarop gewys dat toerisme graag wil ‘teruggee’ aan die omgewing en nie net passiewe besoekers wil wees nie.

Hy het produkeienaars aangemoedig om nie bang te wees om digitale tegnologie tot hul voordeel in te span nie. Wanneer jy bemarking doen, maak seker jou bemarkingspakket is digitaal vriendelik sodat voornemende besoekers ook met ‘n digitale belewenis jou unieke toerismebestemming aanlyn kan ervaar.

Belangrik is dat jy data-rekord hou van besoekerspatrone en waarvoor daar ‘n vraag is, om te kan voldoen aan die behoefte van die mark, het hy gesê.

Die Vredefort Koepel se toerismepotensiaal strek van ekotoerisme tot wild-, geo- en avontuurtoerisme.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button