Local newsNews

Maak seker jou kind is emosioneel gereed vir graad 1

Dit is belangrik om te onthou dat elke kind uniek is en teen sy/haar eie tempo ontwikkel.

Voordat jou kind graad 1 toe kan gaan, is dit belangrik dat hy skoolgereed sal wees en ’n mens wil hê dit moet sonder enige spanning gebeur. Die kind moet met opgewondenheid uitsien daarna. Skoolgereedheid is egter nie die enigste faktor nie. Die kind moet ook emosioneel gereed wees, want sonder emosionele gereedheid kan leer nie optimaal plaasvind nie.

 

Die sigbare en die onsigbare rugsak

Wanneer jou kind by die skool instap, dra hy twee rugsakkies. Die een is sigbaar en is volgepak met penne, potlode, boeke, kosblik, en dies meer. Die ander een is onsigbaar, maar dit is die een wat werklik saakmaak. Daarin dra die kind sy emosies, sy verwagtinge, die dinge wat by die huis gebeur het, klein oorwinnings wat behaal is, die ouer se oggenddrukkie, die herinniering aan ’n glimlag by die deur.

Ander kere dra hy swaar aan die moeilike en swaar goed, soos bekommernisse, eensaamheid, ’n gevoel van behoort of nie, gebrek aan selfvertroue – alles wat nie sommer raakgesien word nie en waarvoor hulle nog nie woorde het nie. Dit is die dinge wat hulle wens iemand sal raaksien net sodat hulle rugsak bietjie ligter kan wees.

Omdat daardie rugsak onsigbaar is, moet ’n mens fyn kyk en sal jy dit in hulle oë, die manier waarop hulle optree en hul stiltes kan sien … en dít is wat tel.

Die vogende faktore speel ’n rol in skoolgereedheid:

  • Skoolgereedheid kan nie afgedwing word nie en is ook nie ’n waarborg nie.
  • Die groot- en kleinmotoriese vaardighede moet goed ontwikkel wees. Dit help met skryf, knip, speel- en leeraktiwiteite.
  • Hierdie motoriese vaardighede help met alledaagse take. Om lank en regop op ’n stoel te kan sit, om van die bord af te kan skryf, om self te teken en in hulle boeke te werk.
  • Emosionele en sosiale gereedheid speel ’n groot rol. Die kind moet kan saamwerk, deel, luister en sy probleme kan beheer en bestuur.
  • ’n Positiewe selfbeeld is belangrik sodat die kind nuwe aktiwiteite met entoesiasme aanpak en nie bang sal wees om te waag nie.
  • Kognitiewe vaardighede om te kan onthou, te konsentreer, het baie met emosionele ontwikkeling te doen. Om te organiseer, sorteer, beplan, kreatief te dink, planne te maak en probleemoplossing is al die vaardighede wat ontwikkel terwyl kinders doelgerig speel.
  • Taalvaardighede om te kommunikeer. Die kind moet in staat wees om vrae te vra en te verstaan en antwoorde te kan gee. Hy moet kan luister en vertel, stories kan herhaal, liedjies en rympies memoriseer om hulle geheue te oefen. Die poging om stories af te lei uit die prentjies, poging om lysies saam te stel wanneer mamma inkopies gaan doen – dit is alles vaardighede wat aandui dat die kind reg is vir skool.
  • Om self aan te trek, toilet toe te gaan en eenvoudige take te voltooi.
  • Eie opgewondenheid om skool toe te gaan, is nog ‘n aanduiding dat hulle reg is.

Ouderdom nie noodwendig ’n goeie maatstaf nie

Die vroeëkinderontwikkelingstadium geld van 0 – 9 jaar en sommige kinders is eers op nege gereed. Dit het niks met intellek te make nie en beteken ook nie die kind is minder begaafd nie. Party kinders neem eenvoudig net langer as ander en dis belangrik om te verstaan dat elke kind uniek en teen sy eie tempo ontwikkel en bloot tyd nodig het.

 Ontwikkelingsareas wat skoolgereedheid bepaal:

  • Fisiese ontwikkeling is die basis vir baie ander vaardighede, soos grootmotoriese vaardighede: balans, koördinasie en spiertonus. Alles vaardighede wat nodig is vir speel en deelname aan liggaamlike aktiwiteite.
  • Fynmotoriese vaardighede soos legkaarte bou, sand-en-waterspel, om te frommel, te skeur, te knip, te plak, te verf en ’n potlood korrek vas te hou.
  • Taalontwikkeling vir luister, vrae verstaan, idees uitruil en sinvolle gesprekvoering.
  • Goeie taalvaardighede bevorder leesbegrip en skryfvermoë en help met effektiewe kommunikasie binne en buite die klaskamer.
  • Emosionele en sosiale ontwikkeling stel kinders in staat om hulle emosies te erken, te beheer en te bestuur en help hulle om hulle beurt af te wag, saam te werk met ander en respek te hê vir reëls en gesag.
  • ’n Kind wat emosioneel stabiel is, self kan reguleer, impulsiewe optrede kan beheer en emosioneel ontwikkel is, kan optimaal leer.
  • Kognitiewe ontwikkeling help die kind om kreatiewe planne te maak, te dink, te redeneer, probleme op te los, vrae te vra en so meer.
  • Selfstandighed en motivering. Die kind wat self take kan voltooi en trots is op sy pogings, het selfvertroue wat noodsaaklik is vir sukses binne die skoolomgewing.
  • Vroegtydige oog- en gehoortoetse. Die kind maak staat op visuele en ouditiewe diskriminasie veral in die klasomgewing en om te kan leer. As hy dus nie goed kan sien of kan hoor nie, kan dit lei tot uitvalle sodat die kind met ’n agterstand sit voordat hy in graad 1 begin.

Jou kind is skoolgereed, maar die emosionele gereedheid ontbreek. Wat kan ouers doen om te verseker die kind sal oukei wees.

  • Benader so ‘n kind met geduld, begrip en doelgerigte ondersteuning.
  • Skep ’n veilige en liefdevolle omgewing waarin die kind weet sy gevoelens word erken, aanvaar en verstaan.
  • Moedig die kind aan om oor sy emosies te praat.
  • Roetine en voorspelbaarheid gee vir kinders ’n gevoel van sekuriteit.
  • Wanneer veranderinge onvermydelik is, berei die kind vooraf daarop voor, want dit skep veiligheid.
  • Gebruik stories, speletjies of rolspel om emosies te bespreek en sosiale situasies te oefen.
  • Gee lof en positiewe aanmoediging om selfvertroue te versterk en die kind trots te laat voel op klein suksesse. Byvoorbeeld, sê: “Jinne, jy het dit goed hanteer. Ek is so bly jy het besef jy was bang, maar jy het deurgedruk en dit goed hanteer.”
  • Leer jou kind eenvoudige ontspanningsvaardighede soos om diep asem te haal of tot tien te tel as hy kwaad of gespanne voel.
  • Maak seker om saam met die onderwyser te werk om konsekwente ondersteuning by die skool te verseker.
  • Indien die kind steeds sukkel, is ’n spelterapeut of kinderberader aangewese vir verdere leiding.

Die belangrikste is om geduldig te wees.

Emosionele groei neem tyd en met liefde en ondersteuning kan die kind leer om selfversekerd en gelukkig in die skoolomgewing te wees.

 Wat kan ouers doen om kind te help om die emosies te reguleer?

  • Die voorbeeld en ondersteuning deur jou as ouer, is uiters belangrik. Tree self kalm en konsekwent op, want kinders leer emosionele regulering deur die ouers.
  • Help jou kind om gevoelens te identifiseer en te benoem.
  • Gebruik ritmes/roetine en voorspelbaarheid, want dit bied ‘n gevoel van veiligheid.
  • Help kinders om te voorspel wat gaan gebeur en verminder so emosionele oorweldiging.
  • Kinders moet “nee” kan aanvaar en nie kwaad word as hulle nie hulle sin kry nie.
  • Hulle moet kan stop en rustig raak om selfregulering toe te pas.
  • Oefen sosiale en probleemoplossingsvaardighede deur rolspel of speletjies, sodat hulle kan leer hoe om woede of teleurstelling op ’n positiewe manier te hanteer.
  • ’n Kind wat baie onsteld is, kan styf vasgehou word totdat jy voel sy spiere ontspan en sy hart begin rustiger klop.

 Wat moet die kind kan doen sodat optimale leer kan plaasvind?

  • Hy moet sy eie gevoelens kan erken en verstaan. As hy sy eie gevoelens verstaan, kan hy leer om ander se gevoelens beter te verstaan en daarop te reageer.
  • Hy moet die emosies in ander raaksien en erken, want so ontwikkel ’n kind empatie. Empatie moet aangeleer word.
  • Emosionele regulering om emosies op ’n gepaste wyse uit te druk, bv. om rustig te raak wanneer hy kwaad is.
  • Sosiale vaardighede, soos die vermoë om saam met ander te kan werk, om te kan deel, om sy beurt af te wag, om konflik op te los en om natuurlik maatjies te maak en vriendskappe te bou.
  • Stel vaste reëls en grense tuis en by die skool vas. Dit maak dit makliker vir die kind, want hy leer oor sosiale norme en reëls waaraan ’n mens moet voldoen. As reëls by die huis toegepas word, maak dit sommer die dissipline by die skool ook makliker.

 Selfvertroue en selfbeeld.

  • ’n Positiewe selfbeeld is onontbeerlik, want die kind se siening van homself het ’n groot invloed op hoe hy ander sien. As hy in homself en sy eie vermoëns glo, sal hy bereid wees om te waag en nuwe aktiwiteite aan te pak.

Deur te fokus op die sosio-emosionele ontwikkeling, help ons die kind om gesond met sy eie gevoelens om te gaan, sodat hy in verhouding kan tree met ander en in verskillende sosiale situasies selfversekerd kan funksioneer. Dit is alles vaardighede wat ons lewenslank nodig het.

{Bron: Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis by die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) het onlangs namens Afrikaans.com op Groeipyne (RSG) gesels oor die belangrikheid van skoolgereedheid, maar veral die emosionele gereedheid van jou kind om graad 1 met selfvertroue aan te pak. Die artikel is ‘n opsomming van die gesprek.)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button