Local newsNews

80% van botsings in dié vyf provinsies

Uiteindelik begin veiligheid by die besluite wat ons neem om ons voertuie te onderhou, verantwoordelik te bestuur en seker te maak dat alle passasiers ook die reëls nakom.

Met 80% van botsings wat in  Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en die Oos- en Wes-Kaap plaasvind, doen die Retail Motor Industry Organisation (RMI) ’n beroep op motoriste wat langs hoë-verkeerskorridors soos die N1, N2, N3, N4 en N14 reis om behoorlik voor te berei deur seker te maak hul voertuie is padwaardig voordat hulle vertrek.

Die RMI het hiermee sy stem gevoeg by die Departement van Vervoer se nasionale feesseisoen-padveiligheidsveldtog, It Begins with Me, met ’n dringende beroep op persoonlike aanspreeklikheid, veiliger voertuie en groter waaksaamheid gedurende een van die gevaarlikste tydperke op Suid-Afrika se paaie.

Nuwe syfers van die Padverkeersbestuurskorporasie toon ’n kommerwekkende toename in noodlottige botsings en padsterftes gedurende die vorige feesseisoen, met beduidende stygings wat in verskeie provinsies aangeteken is. Voetgangers bly die kwesbaarste groep en verteenwoordig ongeveer 45% van alle sterftes, terwyl die hoogste risikotye steeds naweekaande tussen 17:00 en 22:00 is.

Kop-aan-kop-botsings, enkelvoertuig-omkantelings en voorvalle waar voetgangers betrokke is, maak 80% van alle noodlottige botsings uit.

RMI se uitvoerende hoof, Ipeleng Mabusela, sê die data beklemtoon ’n eenvoudige waarheid: “Elke lewe wat op ons paaie verloor word, is voorkombaar. Die feesseisoen plaas noodwendig ekstra druk op die padnetwerk – skoolsluitings, oorgrens reise, vakansieverkeer en nat weer  is alles bydraende faktore.

“In die bedryf sien ons eerstehands hoe swak voertuig onderhoud, verslete bande, foutiewe remme en onpadwaardige voertuie tot voorkombare tragedies bydra,” sê Mabusela. “Ons doen ’n beroep op alle motoriste om hul voertuie te laat nagaan voordat hulle reis. ’n Eenvoudige inspeksie kan ’n lewe red.”

Die RMI beklemtoon ook die rol van veiligheidsgordels en die veiligheid van kinders in voertuie, wat albei steeds groot bydraers tot sterftes is wanneer dit geïgnoreer word. Alkoholmisbruik, veral gedurende die middel-Desember-spits, bly een van die mees algemene onderliggende oorsake van noodlottige botsings.

Mabusela benadruk dat die bedryf, die regering en die publiek saam moet werk: “Wetstoepassingssigbaarheid, openbare bewusmakingsveldtogte en verbeterde padinfrastruktuur speel almal ’n rol – maar uiteindelik begin veiligheid by die besluite wat ons neem om ons voertuie te onderhou, verantwoordelik te bestuur en seker te maak dat alle passasiers ook die reëls nakom. Ons ondersteun die Departement van Vervoer se veldtog ten volle en moedig Suid-Afrikaners aan om die boodskap nie net gedurende die feesseisoen nie, maar regdeur die jaar te omarm.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button