Boomplaatjies help om Sally Martin se boomskat te leer ken en bewaar
Sally Martin Park spog met 33 inheemse boomspesies.
Waar eens net ‘n klipperige rant was, met net hier en daar ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie en ‘n soetdoring boom, is Sally Martin Park vandag ‘n boomryke park.
Dié tyd van die jaar is dit juis die soetdorings met hul oorvloedige geel blomme wat inwoners en besoekers van Sally Martin Park trakteer.
‘n Onlangse opname het gewys dat dié oord spog met ‘n totaal van 33 inheemse boomspesies.
Om die verskillende boomspesies aan inwoners en besoekers bekend te stel, is besluit om nog boomplaatjies by 44 bome in die oord aan te bring.
Waarom die boomplaatjies
Jy kan net liefhê en bewaar, dit wat aan jou bekend is.
Daar word aangesluit by Nicolette van Brakel, ondervoorsitter van die Vredefort Koepel Bewarea se lewensfilosofie vervat in die woorde van Baba Dioum (1968):
In the end, we will conserve only what we love, we will love only what we understand, and we will understand only what we have been taught.
Die wens is dat die naamplaatjies op Sally Martin Park se bome mense sal leer verstaan, liefhê en bewaar.


Die rol van bome
Bome vervul ‘n ongelooflike rol in die Skepping. Dink maar net aan suurstof.
Daar word bereken dat een boom suurstof aan vier mense gee.
Verder gee bome medisyne, kos en koelte aan mens, dier en ‘n legio ander lewende organismes.
Terloops, daar word beweer dat van bekende lewende organismes ‘n boom die oudste word.
As jy weer Sally Martin Park besoek – let op die soetdorings met hul oorvloedige geel blomme, en die ongelooflike boomprag van hierdie oord.
Ons salueer die bestuur, donateurs en inwoners van Sally Martin Park vir hul bydrae oor die jare vir dit wat hulle opgebou en nagelaat het vir die dorp.




