Soos dagboekinskrywings op klei, tref dié kuns op die man-af in Afrikaans
Gretchen Crots se werk is nie net gesog onder Suid-Afrikaners nie, maar ook in die buiteland.
Plaaslike kunstenaar Gretchen Crots se uitstalling onder die titel, Skrif teen die muur, word as een van vanjaar se hoogtepunte in die Knysna Fine Arts-galery beskou, en kan nog tot 3 Januarie besigtig word.



Die oudleerder van Hoërskool Parys se unieke keramiekkuns waarin drie vuurprosesse gekombineer word, is gesog onder kunsliefhebbers nie net plaaslik nie, maar ook in die buiteland.
Gretchen se liefde vir die kunste is kleintyd geslyp in die studio van haar ma, Rika Senekal – self ook bekend as beroepskeramiekkunstenaar.
Na skool studeer Gretchen grafiese ontwerp aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus, maar besef na haar studies dat dit nie agter ‘n rekenaar is waar sy wil wees nie, al het haar studies haar die kennis van Victoriaanse kuns en ‘n dieper begrip van die kunste gegee.
Met die onseker-tyd van Covid na haar studies trek sy terug Parys toe, en word haar loopbaan juis in die onsekerheid gevorm met meer mense wat kuns gekoop het – dalk uit ‘n hunkering na iets mooi in die grys wat Covid na die wêreld gebring het.
Op skool en tydens haar studies het sy al keramiekborde gemaak, “sommer om te speel”, wat sy dan uit die hand en by ‘n plaaslike galery verkoop het. So sien die Smack Galery in Kaapstad haar borde raak en nader haar om haar werk daar uit te stal as deel van ‘n groepuitstalling. Daarna het ander Kaapse galerye haar gekontak vir uitstallings, en word haar werke met die uitsondering van 2025, elke jaar by die Hermanus Fynarts kunstefees gesien vir die keramiek groepsuitstalling.
Haar eerste solo-uitstalling volg in 2023 by die Grande Provence wynlandgoed en galery.
Vandag is haar grootste mark in die Kaap en in die buiteland – gesog vir die unieke karakter daarvan waarin sy haar liefde vir die Afrikaanse taal en sy slagspreuke, haar woorde en gesegdes, asook elemente uit die natuur vasvang – pittig, kru, maar op die man af eerlik in Afrikaans gesê.
Haar werk spreek van ontbering, deursettingsvermoë, selfs verlies, maar ook vreugde en vrae. Dagboekinskrywings in klei uit haar eie lewe en ervaring van menswees, geskep uit ‘n diep persoonlike reaksie en kommentaar op die lewe se gebeur.

In kenmerkende kontras van die kru-taal is die fyn detail wat woordeloos die teenstrydighede in die Afrikaner-kultuur uitwys. Werke wat nie anders kan as om jou siel te raak, jou te laat lag, te laat nadink, en onbewustelik tussen blompatrone die vrae te laat vra wat dikwels onbeantwoord gelaat word.
Hoewel die gebruik van kru-taal dalk nie by alle kunsliefhebbers aanklank vind nie, is die bedoeling nie om te skok of aanstoot te gee nie, maar ‘n eerlike blik op die wêreld daarbuite, uitgedruk in Afrikaans, gesels Gretchen.
Antieke porselein en keramiekpatrone inspireer haar. “Ek hou daarvan om dit te herinterpreteer,” gesels Gretchen.


Aanvanlik het sy baie blou-en-wit wilge en delftpatrone prominent in haar werk gebruik. Nou neig sy meer na ‘n Victoriaanse, dekoratiewe, oordrewe styl.
“Alles wat ek het, wat ek versamel en wat ek naby aan my het, kom deur in my werk. My werk is persoonlik, ekspressief. ‘n Tydsbeskrywing en verwysing na hoe absurd dinge kan wees,” gesels sy.
Suid-Afrikaners het ‘n unieke manier om met humor die lig in dinge te sien. En dit is dié uniekheid wat Gretchen ook in haar werk vasvang. Geanker waar haar wortels lê – in Parys by haar hartsmense, haar ma, en sus, Inge.




