Water- en kragkrisis plaas gesinne onder ernstige druk
Daar is 'n dringende behoefte vir nie-bederfbare voedsel en drinkwater vir dié gesinne wat geraak word.
Met skole wat vandag landwyd heropen het, word gemeenskappe in die ooste van Pretoria verder onder druk geplaas nadat herhaalde krag en wateronderbrekings hulle sedert 26 Desember sporadies met droë krane en sonder lig gelaat het.
Die voortslepende onderbrekings raak veral gesinne, skole en versorgingsentrums direk in gebiede soos Derdepoort, East Lynne, Jan Niemandpark en omliggende gebiede.
By Ons Plek Derdepoort, Solidariteit Helpende Hand se naskoolsentrum wat ook as ’n noodanker vir die breër gemeenskap dien, het die situasie reeds ’n ernstige krisispunt bereik, aangesien sommige gedeeltes van die gebied reeds vir bykans drie weke sonder betroubare basiese dienste is.
Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, plaas die volgehoue onderbrekings enorme druk op inwoners, gemeenskapsentrums en kinders, veral met die opening van skole.
“’n Mens kan nie so lank sonder krag én sonder water wees, veral wanneer die skole begin nie. As skole vir lank nie water het nie, moet hul noodgedwonge sluit om hulle nie ten volle kan funksioneer nie. Dit sit verdere druk op gesinne en byvoorbeeld ons naskoolsentrum wat ook reeds sukkel aangesien hulle deur die vakansie moes funksioneer om kinders te versorg,” sê Noëth.
“Sonder water kan toilette nie gespoel word nie en basiese higiëne word ’n ernstige probleem. Dit raak nie net die kinders nie, maar ook personeel en gesinne in die gemeenskap. Watertenks en emmers help vir ’n kort rukkie, maar dit is nie ’n volhoubare oplossing nie.”
Die daaglikse werklikheid op grondvlak word deur Elize Bezuidenhout, sentrumbestuurder van Ons Plek Derdepoort, beskryf. “Die herhaalde kragonderbrekings het veroorsaak dat gesinne groot hoeveelhede kos wat hulle vir die feesseisoen aangeskaf het, moes weggooi omdat yskaste en vrieskaste nie werk nie. By die sentrum self het ons reeds al ons vleis en ander kos verloor. Jy kan nie vooruit beplan of behoorlike kosvoorbereiding doen nie en moet elke ete op die nippertjie probeer regkry,” sê Bezuidenhout.
Sy sê die druk op huishoudings is enorm. Baie gesinne is afhanklik van maatskaplike toelaes, het nie kragopwekkers nie en selfs waar kragopwekkers beskikbaar is, raak brandstof onbetaalbaar. Inkomste wat vir Desember en Januarie se kos, skryfbehoeftes en skoolgeld bedoel was, is reeds uitgeput.
“Die mense is moedeloos. Ouers sukkel om kos en noodsaaklike medisyne soos insulien koud te hou, kinders te voed en terselfdertyd skoolkostes en ander uitgawes te dra. Die onsekerheid oor hoe lank dit nog gaan duur, breek mense se moed,” sê Bezuidenhout.
Volgens die Stad Tshwane hou die kragonderbrekings verband met skade aan infrastruktuur by die Koedoespoort-substasie en ’n verouderde verspreidingskabel wat elektrisiteit na verskeie gebiede vervoer. Alhoewel tegniese spanne sedert laat Desember aan diens is, lei herhaalde kabel en pypbreuke daartoe dat dienste herstel word en dan weer wegval.
Solidariteit Helpende Hand doen ’n dringende beroep op die publiek, ondernemings en organisasies om die gemeenskap tydelik te ondersteun met skenkings van:
- nie bederfbare kos
- drinkwater, twee liter, vyf liter of groter hoeveelhede
“Ons weet nie hoe lank hierdie situasie nog gaan voortduur nie, maar intussen probeer ons ons strukture mobiliseer en net seker maak dat kinders en gesinne nie honger en dors ly nie. Ons is reeds dankbaar vir die hulp van AfriForum,” sê Noëth.
Bel of stuur ’n WhatsApp-boodskap aan Bezuidenhout by 082 772 1821 om skenkings te reël. Solidariteit Helpende Hand sal ook geldskenkings kanaliseer vir mense van buite die omgewing wat wil help.
Besoek helpendehand.co.za/donasie en gebruik Derdepoort as verwysing.



