Bothaville seuntjie (9) se dood laat vrae oor veiligheid van elektriese infrastruktuur sê DA
Die 9-jarige seuntjie het gesterf nadat hy vermoedelik aan 'n oop elektriese kabel geraak het.
Die DA in die Nala Plaaslike Munisipaliteit eis antwoorde van die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake oor die veiligheid van elektriese infrastruktuur in dié munisipaliteit, ná die tragiese dood van ‘n 9-jarige seuntjie van Bothaville in die Vrystaat. Chris Foord het Saterdag gesterf nadat hy vermoedelik aan ‘n oop elektriese kabel geraak het toe hy saam met maats gespeel het. Hy was ‘n leerder van die Loskuil-plaasskool buite Bothaville.
Die Nala munisipaliteit is tans onder Artikel 139(1)(b)-finansiële ingryping.
Die DA sê hy gaan aan die Premier van die Vrystaat skryf oor die oënskynlike versuim van die Artikel 139-ingryping en die aangestelde administrateur om skade te voorkom en wettige bestuur te herstel. Die party wil ook ‘n formele versoek aan die Openbare Beskermer rig vir ‘n ondersoek na die voorval.
Bevindings oor aanspreeklikheid of verantwoordelikheid kan eers gemaak word sodra ‘n onafhanklike ondersoek gedoen is.






