Motor wat in Sasolburg gesteel is, naby Heilbron gekry
Vinnige optrede van die polisie het gelei tot die terugvind van die voertuig en die arrestasie van drie verdagtes.
‘n Man en twee vroue tussen die ouderdomme van 27 en 33 jaar, sal vandeesweek in die landdroshof in Heilbron verskyn op aanklagte van die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.
Die eienaar van die voertuig het Donderdag, 6 Maart, naby ’n klub in Sasolburg geparkeer maar het sy motorsleutels verloor. Toe hy die volgende dag terugkeer, was sy motor weg en het hy die diefstal by die polisie gerapporteer.

Sersant Josephine Rani sê polisielede het Vrydagaand inligting gekry oor die gesteelde voertuig wat lede van die Fezile Dabi-distrik TRIO-taakspan, en lede van Sasolburg Misdaadvoorkoming, toe na die R57 in die rigting van Heilbron gelei het waar die verdagtes gearresteer en die voertuig gevind is.



