Geen rede om sanitêre doekies van mark te onttrek, sê departement, kenners
Die departement het benadruk dat geen studie ’n oorsaaklike verband tussen hierdie chemikalieë en nadelige gesondheidsuitkomste by vroue of meisies bewys nie.
Die Departement van Gesondheid sê die gebruik van sanitêre doekies is steeds veilig, en dat die bevinding van ‘n studie wat deur die Universiteit van die Vrystaat op sanitêre doekies en minidoekies gedoen nie, nie die onttrekking van hierdie produkte van die mark regverdig nie.
Die studie is op 16 sanitêre doekies en 7 minidoekies gedoen wat aanlyn gekoop is. Klein hoeveelhede endokrien-ontwrigtende chemikalieë (EDC’s) is in die getoetste monsters gevind, met al die produkte wat getoets is wat ten minste twee tipes EDC’s bevat het. Dit het produkte ingesluit wat as chemikalievry bemark is.
Die gevolgtrekking van die studie was dat menstruele produkte ’n beduidende maar oor die hoof gesiene bron van blootstelling aan EDC’s is. ‘n Nuusberig wat op die universiteit se webwerf gepubliseer is, oor die blootstelling aan EDC’s in sanitêre doekies wat in die studie gevind is, is deur die media opgetel en het wye dekking veral op sosiale media gekry, wat tot wydverspreide paniek onder vroue en jong meisies gelei het wat hierdie produkte gereeld gebruik.
Die departement het tydens ‘n mediekonferensie gesê dat kundiges van toonaangewende Suid-Afrikaanse navorsings- en kliniese instellings van mening is dat dit nie verrassend is dat EDC’s in sanitêre doekies gevind is nie, maar dat die vlakke wat gevind is, laag was, en baie laer as die toelaatbare vlakke wat deur internasionale regulerende liggame bepaal word..
Die versekering is gegee dat regulerende owerhede in Suid-Afrika sal voortgaan om die produkte te monitor soos voorheen.
Daar is egter benadruk dat geen studie ’n oorsaaklike verband tussen hierdie chemikalieë en nadelige gesondheidsuitkomste by vroue of meisies bewys nie.

Die departement het daarop gewys dat uit gesprekke met kundiges in die mediese bedryf is bepaal dat die bydrae van menstruele produkte tot die totale blootstelling aan EDC’s net ongeveer 6,8%, is terwyl die grootste deel van blootstelling uit voedsel (40%) en ander persoonlike versorgingsprodukte (40%) kom, soos tandepasta, sjampoe, haarversorgingsprodukte, lyfroom, lipstiffie en selfs klere.
Om oorsaaklikheid te bewys, moet ander moontlike oorsake of risikofaktore uitgesluit word – iets wat in hierdie studie nie gedoen is nie, het die departement gesê.
Gegewe die klein monster grootte, lae konsentrasies en beperkte data, is daar geen bewys van skade aan die algemene publiek nie, en die huidige bewyse ondersteun nie onttrekking van die produkte aan die mark nie, is verder gesê.
Die departement het ook daarop gewys dat internasionale data oor dekades volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie nie EDC’s direk met spesifieke siektes verbind nie.
Volgens Boitumelo Semete, Hoof Uitvoerende Beampte van die South African Health Products Regulatory Authority (SAHPRA) beskryf toepaslike wetgewing sanitêre produkte as ‘n sogenaamde lae-risiko, wat beteken vervaardigers hoef nie ’n lisensie te hê nie, maar hulle moet steeds aan internasionale standaarde voldoen.
Semete sê daar is geen bewese verband tussen die EDC’s wat gevind is en toestande soos kanker, onvrugbaarheid of endometriose nie.
Semete het verder bevestig SAHPRA het geen verslae van nadelige voorvalle van die publiek ontvang nie.
Die publiek kan egter steeds enige nadelige voorvalle aan SAHPRA rapporteer, en sal SAHPRA hierdie produkte saam met ander regulerende instansies en organisasies bly monitor.
Wêreld Gesondheidsorganisasie reageer
Die Wêreldgesondheidsorganisasie het beklemtoon dat toegang tot menstruele produkte ’n belangrike deel van universele gesondheidsdekking is.
“Produkte wat belangrike openbare gesondheidsvoordele bied, behoort nie onttrek te word nie tensy daar duidelike bewys van skade is wat swaarder weeg as die voordele. Tot dusver is geen duidelike bewys van skade deur hierdie tipe produkte gevind nie, is gesê.
“Blootstelling aan EDC’s kan uit baie verskillende persoonlike versorgingsprodukte kom wat wêreldwyd gebruik word. Reguleerders moet daarom die breër openbare gesondheidskonteks in ag neem,” het die organisasie gesê, en genoem dat hy nie bewus is van enige geval wêreldwyd waar toegang tot hierdie produkte onttrek is weens kommer oor EDC’s nie.
Regulering
Verskeie instellings speel ’n rol om te verseker dat sanitêre produkte in Suid-Afrikan aan standaarde voldoen en veilig is. Hieronder tel ook die Suid-Afrikaanse Buro van Standaarde en die Suid-Afrikaanse Verbruikersorganisasie. Reguleringsinstansies het in antwoord op die studie geen bykomende regulatoriese optrede vereis nie, het die departement gesê.
Universiteit van die Vrystaat reageer
Die Universiteit van die Vrystaat het ook ’n verklaring uitgereik waarin aangedui word dat die navorsing wat gedoen is, nie beweer dat korttermyngebruik van menstruele produkte spesifieke gesondheidstoestande veroorsaak nie.
Die universiteit sê die studie is ook nie ontwerp om ’n direkte oorsaaklike verband tussen die opgespoorde chemikalieë en siektes by vroue te bewys nie.
Die universiteit sê verder die bevindings bied bloot geëvalueerde wetenskaplike data en identifiseer areas vir verdere navorsing. Die studie beveel nie aan dat huidige produkte van die mark onttrek moet word nie.



