Local newsNews

Kommer oor R59 voor Nampo

Duisende Oesdaggangers gebruik elke jaar die R59 om by die Oesdagterrein net buite Bothaville te kom.

Die burgerregte organisasie AfriForum het ’n beroep op die Vrystaatse Departement van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer gedoen om dringend in te gryp by die haglike toestand van paaie in en om Viljoenskroon. Die organisasie sê hierdie paaie hou ’n ernstige veiligheidsrisiko vir padgebruikers in, veral met die jaarlikse Nampo-oesdag om die draai.

 

Die organisasie het veral klem gelê op die toestand van die R59 –  een van die hoofroetes na die Nampo-terrein net buite Bothaville. ’n Gedeelte van dié pad is reeds vir maande oorstroom en afgesluit, terwyl groot dele daarvan tussen Viljoenskroon en Vredefort met slaggate en ernstige strukturele skade besaai is.

 

Slaggate in Viljoenskroon se strate.
Slaggate in Viljoenskroon se strate.

 

Volgens ’n brief wat AfriForum vandag aan die departement gestuur het, word motoriste tans deur Viljoenskroon herlei. Dié dorp se strate is egter ook in ’n haglike toestand en word nie behoorlik deur die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit onderhou nie. Die gevolg is dat duisende besoekers wat Nampo wil bywoon, gedwing word om paaie in ‘n swak toestand te ry.

 

AfriForum se brief is ook aan die munisipaliteit en die Suid-Afrikaanse Padagentskap vir ingryping gestuur.

 

Hoewel ’n gedeelte van die R59 al geruime tyd onder konstruksie is, word geen vordering gemaak nie, sê Afriforum wat ook sy kommer uitgespreek het oor die standaard van werk wat die aangestelde kontrakteur tot dusver op die R59 en Fortunastraat-projek gedoen het het.  

 

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, is die toestand van die paaie nie net ’n infrastruktuurprobleem nie, maar ook ’n direkte veiligheidsrisiko vir padgebruikers. “Met duisende besoekers wat na verwagting die Nampo-oesdag  in Mei sal bywoon, kan die huidige toestand van die paaie tot ernstige ongelukke lei. Dringende ingryping is nodig voor die oesdag oor sowat twee maande afskop,” eis Grobbelaar.

 

AfriForum het ook ’n openbare petisie van stapel gestuur waarin inwoners en padgebruikers die regering kan versoek om dringend op te tree. Elke persoon wat die petisie onderteken, sal ook ’n formele klagte laat registreer by die relevante owerhede.

 

“Die regering het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat openbare infrastruktuur veilig en bruikbaar is. Die huidige toestand van die paaie om Viljoenskroon is onaanvaarbaar en stel duisende mense se veiligheid in gevaar,” sê Grobbelaar.

 

Die foto wys 'n gedeelte van die R59 buite Viljoenskroon onder water as gevolg van 'n pan wat oorloop oor die pad.
Die foto wys ‘n gedeelte van die R59 buite Viljoenskroon onder water as gevolg van ‘n pan wat oorloop oor die pad.

 

AfriForum moedig alle inwoners, boere en padgebruikers aan om die petisie te onderteken en hul stem te laat hoor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button