Onthou-tyd saam met hulle wat nie meer onthou nie
“They may sometimes forget what you said … but they will not forget how you made them feel,”
Internasionale Alzheimer Bewusmakings Dag met die tema, “Forget me Not”, is Woensdag, 21 September by Sally Martin gevier met ‘n oggend waar die inwoners van die tehuis se Demensie-fasiliteit saam met hul families met tee en ververings, musiek en samesyn getrakteer is.

Oral was pers. Van die tafelversierings tot die blomme op die tafels, pers ballonne en blomme in die hare.
Die oggend was gefokus op bewusmaking van Alzheimer se siekte, die aanspreek van die stigma wat daar soms rondom die siekte is, en ondersteuning aan families en pasiënte wat hierdeur geraak word.
Arbeidsterapeut, Minette van Eeden, het met die inwoners se families gesels oor ‘Wat kan ek doen tydens ‘n kuier?’ Sy het voorstelle gegee vir aktiwiteite met geliefdes.
Sy het ook gewys hoe om handeroom vir massering te gebruik om deur middel van aanraking steeds emosionele bande met ‘n familielid te herbevestig.

Dit sluit nou aan by die aanhaling: “They may sometimes forget what you said … but they will not forget how you made them feel,” het sy gesê.
Die Koepel Klanke Orkes het vir die res van die oggend gesorg vir lekker musiek, en het sommige inwoners hul spontaan aan die ritme oorgegee en vol vreugde saam met die personeel en familie gedans.
Daar is heerlik saam gekuier, en die oggend is afgesluit met die gesamentlike loslating van pers ballonne met die tema: ‘We remember our loved one’s love when they can no longer remember’.

Saam met die kaartjies wat familielede kon huis toe neem, was Vergeet-my-nie saad om te plant en ook só hulle te onthou wat nie meer onthou nie.
Dankie aan al die vrywilligers wat die dag gehelp het om die tee en verversings te bedien.




