‘n Motorongeluk op die Parys/Potchefstroom-pad het Saterdagaand, 29 Oktober, die lewe van die 30-jarige O.J Labuschagne ge-eis.
OJ was ‘n kranige sportman en ingenieur van Potchefstroom. Hy was van Vanderbijlpark op pad terug na Potchefstroom toe hy vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor het. Hy is op die toneel dood.
OJ word Vrydag 4 November om 11:00 vanuit die NG gemeente Grimbeekpark begrawe.
Ons innige medelye met sy naasbestaandes.
- Maandagmiddag is vier insittendes van ‘n Toyota Conquest met ‘n Gautengse registrasienommer ook noodlottig beseer in ‘n botsing op die N1 naby Heuningspruit. Die ongeluk tussen die Conquest en ‘n minibus wat konstruksiewerkers vervoer het, het net voor 17:00 gebeur. Daar was nege insittendes in die minibus, waarvan vier per ambulans na nabygeleë hospitale vervoer is. Die name van die oorledenes was nog nie met Gazette se ter perse gaan bekend nie.