Die beste sendingveld is die een op jou eie voorstoep
As jy nie 'n vreemdeling in Jerusalem is nie, weet jy dat Julie en Augustus twee omgeemaande in Suid-Afrika is.
Julie vier ons Madiba se verjaardag en word Suid-Afrikaners aangemoedig om 67 minute te bestee om die lewens van hul volksgenote beter te maak.
Tydens Augustus word daar aan vroue-sake aandag gegee.
As ‘n mens in Parys en Vredefort rondkyk vir geleenthede om goed te doen en jou naasteliefde uit te leef, is die kanse eintlik legio! ‘n Mens kan maklik vasval en moedeloos raak omdat die nood op so baie plekke so groot is.
Daar is egter ‘n logiese oplossing… laat jou lei deur jou voorliefdes en talente.
Dit was dus nie moeilik vir Vicky en haar span by L’abri Day Spa om te doen waarvoor hulle lief is nie. Hulle het die dames van die Epilepsie Sentrum in Parys met pedikuurs bederf.
Daar is tydens die Vrouedagweek begin, en is die dames in groepe gaan haal vir die groot bederf.
Daar is ook saam tee gedrink en lekker gesels.
Vicky getuig dat sy en haar span geraak is deur die inwoners se dankbaarheid vir die bederf wat hulle soveel geniet het, en hulle weer waardig en spesiaal laat voel het.
Angelique Kleynhans, voorsitter van die raad van die Epilepsie SA Vrystaat/Noordwes-sentrum vertel dat daar 54 inwoners in die sentrum is.
Die oudste inwoner is 84 jaar oud en woon al 44 jaar daar. Die jongste inwoner is nou 2 maande daar.
Daar woon nie net epilepsielyers nie , maar ook persone met ander gestremdhede. Hulle is soos ‘n groot familie en die sentrum is hul tuiste.
Die sentrum se nuwe raad is in Junie aangestel. Soos dit met baie maatskaplike instellings gaan, kry die sentrum min befondsing en sal hulle dit waardeer as maatskappye hul weg oopsien om by te dra. Enige ander bydraes is ook welkom, veral saad vir die groentetuin.
Individue is ook welkom om met die sentrum te skakel en hulp aan te bied.
Angelique en ‘n handjievol vrywilligers bied weeksliks kunsklasse aan vir die inwoners en dalk is daar iemand wat graag hier betrokke wil raak, of die inwoners op enige ander manier wil bederf. Vir navrae oor die sentrum skakel Angelique Kleynhans by 082 564 6172.