Local newsNews

Moenie ‘n blinde oog draai op geslagsgeweld

Ons kan nie net oor geslagsgebaseerde geweld gesels wanneer 'n vrou aangeval word, of wanneer die 16 dae van aktivisme-veldtog aanbreek nie."

Daar is steeds ‘n toename in voorvalle van geweld onder vroue en kinders in Suid-Afrika, en Parys is geen uitsondering nie. By die Parys Landdroshof is daar daagliks aansoeke om ‘n interdik teen gesinsgeweld, vertel Anne-marie du Toit, voorsitter van die Parys Gemeenskap Polisiërng Forum. Met die wêreldwye ‘Sestien dae van geen geweld teen vroue en kinders’ bewusmakingsveldtog word die aandag vandeesmaand weer daarop gevestig om ‘n einde te bring aan hierdie onreg.

Die jaarlikse veldtog is ingestel deur die Verenigde Nasies, en begin op 25 November, wat ook die Internasionale Dag van Geen Geweld teen Vroue is. Die veldtog loop ten einde op Internasionale Menseregtedag, 10 Desember.

Vanjaar se tema is “Versnelling van aksies om geslagsgeweld en vrouemoord te beëindig, en om niemand agter te laat nie”. Suid-Afrika neem die afgelope 25 jaar aan hierdie veldtog deel.

Geslagsgebaseerde geweld (“GBV”) behels emosionele, ekonomiese en sosiale misbruik, asook sistematiese ondergeskiktheid van vroue en meisies deur wette, polisse en praktyke.

Vrouemoord of die breër begrip “femicide” is beperk tot fisiese en seksuele geweld teen vroue en jong meisies, of die moord op ‘n vrou, meestal deur ‘n manspersoon, en bloot omrede daardie persoon vroulik is. Dit word gemotiveer deur die begeerte om vroue te beheer of te domineer.

Suid-Afrika tel, in vergelyking met lande waar statistieke vrygestel word, onder die vyf lande ter wêreld met die hoogste vrouemoordsyfer.
Die Departement van Justisie en Konstitusionele Ontwikkeling maak melding dat daar jaarliks ongeveer 50 000 sake van geslagsgebaseerde geweld in SA aangemeld word.

Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) gee egter nie net gedurende dié tydperk aandag aan die bekamping van geslagsgebaseerde geweld nie, maar fokus deurlopend op bewusmakingsveldtogte teen nie net GBV nie, maar ook die bekamping van gesinsgeweld in die algemeen.

Die Parys GPF glo dat enigiemand, ongeag ouderdom, ras, seksuele oriëntasie of opvoedkundige agtergrond, enige vorm van geslagsgebaseerde geweld kan ervaar.

Individue wat geweld ervaar, kan emosionele, geestes-, fisieke en seksuele gesondheidsprobleme ervaar as gevolg daarvan, verduidelik Annemarie.
“Ons kan nie net oor geslagsgebaseerde geweld gesels wanneer ‘n vrou aangeval word, of wanneer die 16 dae van aktivisme-veldtog aanbreek nie.
Dit moet ‘n aanhoudende gesprek wees”, sê Annemarie.

“Ons moet op voorsorg fokus, en ons jongmense moet oor die kwessie ingelig en opgevoed word,” sê sy.

Gesinsgeweld is ‘n sosiale probleem en moet behoorlik deur die Departement van Sosiale Ontwikkeling aangespreek word.

Die Konstitusionele Hof in Suid-Afrika het verskeie uitsprake teen gesinsgeweld in die algemeen gelewer en in S v Baloyi 86 2000 (1) BCLR 86 (CC) paragraaf 11 het die hof opgemerk dat: “All crime has harsh effects on society. What distinguishes domestic violence is its hidden, repetitive character and its immeasurable ripple effects on our society and on family life.”

“It cuts across class, race, culture and geography, and is all the more pernicious because it is so often concealed and so frequently goes unpunished”

Die Wet op Voorkoming van Gesinsgeweld is onlangs gewysig, en is die definisies van dominerende gedrag en dwingende beheer (“coercive control”), en spirituele of religieuse beheer in verhoudings onder meer uitgebrei.

Dit is ook nou volgens die wetgewing moontlik vir ‘n slagoffer om elektronies ‘n aansoek wat verband hou met gesinsgeweld in te dien by ‘n klerk van ‘n hof wat spesifiek daarmee handel.

Die GPF vra dat die gemeenskap nie ‘n blinde oog sal draai vir geweld in gesinne nie.”As gemeenskap moet ons druk op die regering toepas om die politieke wil te kweek om kragdadig teen geweld en misdaad op te tree.”

Om standpunt in te neem en op te tree teen geslagsgebaseerde praktyke, instellings en geweld is ‘n verantwoordelikheid van die staat, maar ook van ons gemeenskap – en nie net vir 16 dae tussen November en Desember nie,

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button