Gemeenskappe verwag nie wonderwerke nie – net dienslewering
AfriForum meen munisipaliteite behoort eers aan instandhouding van infrastruktuur aandag te gee voordat nuwe projekte aangepak word.
Die verval van padinfrastruktuur, swak instandhouding van water- en rioolnetwerke, onvoldoende infrastruktuurbeplanning, gebrekkige dienslewering en ’n gebrek aan aanspreeklikheid, is van die grootste knelpunte wat uitgewys is in dorpe soos Parys, Klerksdorp, Potchefstroom en Sasolburg.
Inwoners word gekonfronteer met slaggate, riooloorlope, waterverliese, onvoldoende straatbeligting, swak afvalbestuur en verouderde infrastruktuur wat nie meer aan die gemeenskappe se behoeftes voldoen nie.
Dit blyk uit die konsep-geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP’s) van die Ngwathe (Parys, Heilbron, Edenville, Koppies en Vredefort), Matlosana- (Klerksdorp), J.B. Marks- (Potchefstroom) en Metsimaholo- (Sasolburg) munisipaliteite.
Die burgerregte organisasie, AfriForum, het in sy reaksie op die GOP’s, gesê nuwe projekte behoort eers op sy geskuif te word totdat die nodige onderhoud afgehandel is.
Die organisasie sê hy is veral bekommerd oor die feit dat die munisipaliteite se GOP’s wel die uitdagings in die dorpe erken, maar dikwels nie duidelike, tydsgebonde planne bevat om die probleme op te los nie.
Die boodskap uit al die dorpe is dieselfde – ’n duidelike wanverhouding tussen die doelwitte wat op papier gestel word en die toestand van infrastruktuur en dienslewering op grondvlak, sê AfriForum.
“Gemeenskappe verwag nie wonderwerke nie, maar hulle verwag dat bestaande infrastruktuur behoorlik onderhou en basiese dienste betroubaar gelewer word. Dit help nie om nuwe projekte aan te kondig terwyl paaie, waternetwerke, rioolstelsels en straatligte oral besig is om in duie te stort nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
AfriForum het die betrokke munisipaliteite versoek om instandhouding eerste te stel, toegewyde begrotings vir kritieke infrastruktuur te beskerm, groter aanspreeklikheid vir swak prestasie af te dwing en gemeenskappe beter by beplanning en monitering van dienslewering te betrek.
“ Indien daar nie dringend opgetree word nie, sal die verval van infrastruktuur die druk op munisipale finansies en die agteruitgang van dienslewering net vererger,” meen Pretorius.



