Minister moet verduidelik oor dorp se waternood
Die kwessie rondom Heilbron en Phiritona se waternood is na maande steeds nie opgelos nie.

Sedert Desember 2023 kry dié dorp net 4,4 megaliter water van Rand Water, pleks van die 8 megaliter water wat in die verlede aan die dorp voorsien is.
Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria Mtombeni-de Beer, sou verlede week weer samesprekings met Rand Water voer in ‘n poging om antwoorde te kry. Dit was met die skryf van hierdie berig nie bekend wat die uitslag van die samesprekings was nie.
Die Vryheidsfront Plus se LUR Tammy Breedt, het verlede week in ‘n skrywe dit onder die minister van waterwese en sanitasie, Senzo Mchunu, se aandag gebring dat Rand Water vroeër ‘n kennisgewing aan inwoners van Heilbron uitgereik het om hullle in te lig oor vloeibeheer (waterbeurte). Volgens die kennisgewing was dit omdat Rand Water se watervoorsiening aan dié gebied onder druk is.
Die pyplyn vanaf Sasolburg na Heilbron moet 12 megaliter water per dag kan lewer. Tog het Heilbron nog nooit meer as 8 megaliter water per dag van Rand Water ontvang nie, skryf Breedt.
As gevolg van die vloeibeheer moet Heilbron en Phiritona nou met net sowat die helfte van die water wat vroeër voorsien is klaarkom wat nie naastenby genoeg is vir die gemeenskappe en die hospitaal nie, skryf Breedt, Rand Water het in sy vroeëre kennisgewing aangedui dat die vloeibeheer nodig is om te verseker dat opgaardamme se watervlak gehandhaaf word op 60%.
Breedt skryf dat dit al meer as ‘n maand is sedert die maatreël vir vleoibeheer ingestel is, en dat al drie opgaardamme wat die watersuiweringsaanleg van Rand Water van water voorsien, reeds op die maksimum vlak is.
Die vraag wat aan die minister gevra word is of ander probleme by Rand Water die rede is vir die verminderde watervoorsiening aan Heilbron, en of dit bloot ‘n strafmaatreël is weens die munisipaliteit se enorme skuld aan Rand Water. Ngwathe is die enigste Vrystaatse munisipaliteit wat Rand Water teen Desember n verstommende meer as R61 miljoen geskuld het.
Die mensgemaakte krisis veroorsaak dat mense vir ure en selfs dae sonder water is wat ook besighede negatief raak, en ‘n groot gesondheid en sanitasie krisis veroorsaak, skryf Breedt,
‘n Petisie waarin optrede oor die swak waterdienslewering in Heilbron ge-eis word, en wat deur 1 571 inwoners onderteken is, is reeds deur Vryheidsfront Plus raadslid
Phillip van der Merwe aan Ngwathe se burgemeester oorhandig.
Verbruikers vra in die petisie dat water rotasie toegepas moet word sodat beskikbare water billik verdeel kan word. Daarmee word bedoel dat kleppe in die netwerk oop en toegedraai word sodat elke deel van die dorp genoeg water sal ontvang.Die versoek is gebasseer daarop dat sommige dele van die dorp permanent water het en ander glad nie.