Daar is al ver gevorder met die bou van die vlot wat aan die voorpunt van die Kruistog sal wees.
Saterdag is dit Operasie Skoonmaak in Vredefort se strate wanneer dié dorp se inwoners hul dorp gaan netjies maak vir die Kruistog wat vanjaar op 29 Maart gehou word. Sowat 3 000 mense word verwag by dié besondere Paasfeesviering, en is dit die derde jaar dat die gemeenskap van Vredefort mense van oraloor in dié Vrystaatse dorpie gaan ontvang vir ‘n Via Dolorosa-ervaring in die hart van die Vredefort Koepel.
Man en muis rol Saterdag 16 Maart die moue op om te help. Daar word om 08:00 op die kerkterrein van die dorp se NG Kerk bymekaar gekom vanwaar daar opgedeel word in spanne en die strate ingevaar word, vertel Juan Greeff, een van die organiseerders.
Die skoonmaakaksie duur tot 13:00 waarna elkeen wat hand bygesit het, bederf word met ‘n gratis worsbroodjie op die NG Kerkterrein.Saterdag 23 Maart is daar ‘n groot kruisbou-aksie by die dorp se Dinamika gemeente. Kom bou jou eie kruis vir die 3km sirkelroete wat mense die dag met hul kruise deur Vredefort se strate sal stap, of kom sit sommer net hand by of kuier saam as daar gewerk word.
Daar is al fluks gevorder met die bou van die nuwe vlot wat vanjaar aan die voorpunt van die optog sal wees. Die vlot stel die wederkoms voor en oud en jonk vou al die afgelope twee weke aan die duisende plastiekblomme wat nodig is vir die versiering van die vlot.
Duisende plastiekblomme word gevou vir die versiering van die vlot. Die spannetjie het Maandag help vou.
Daar is al ver gevorder met die bou van die vlot wat aan die voorpunt van die Kruistog sal wees.
Een van hul drome om die NG Kerk se kloktoringhorlosie weer te sien loop, en die klokslae al om die halfuur en uur in die dorp se strate te hoor weerklink, is reeds verwesenlik. Nou wag nog net die skoonmaak en regruk van die dorp se strate en sportgronde in afwagting op die groot dag.
Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.