
Wat as `n lighartige gesprek oor `n koppie koffie na kerk begin het, het gelei tot `n gesellige maandelikse samekoms van kreatiewe vroue in die NG Suid Kerksaal in Delverstraat. Gepas genoem – Die Evas.
Dié breinkind van Susan Brits is `n poging om vroue van alle ouderdomme bymekaar te kry om vaardighede aan te leer, geïnspireer deur die Bybelse beginsel dat ouer vroue die jongeres moet leer. Tog het dit gou geblyk dat dit `n oor-en-weer leerdery sou wees.
Daar is reeds twee suksesvolle geleenthede gehou waar onder meer papiervoukuns, basiese Macramé, en kleimodellering gedoen is.
Om die besige skedules van vroue tegemoet te kom, is die heerlike saamkuier en kreatief wees net van 10:00 -12:00 op `n Saterdagoggend, eenmaal per maand.

Basiese Macramé vaardighede word hier geleer.
Die verrigtinge word afgesluit met tee, koffie en `n versnapering.
Betyds om nog die res van die Saterdag tuis te geniet. Alles gratis en verniet.
As jy nuwe vaardighede wil aanleer, of as jy ander met jou vaardigheid wil bemagtig, skakel Susan by 061 091 4609 om ingesluit te word by die Whatsapp groep waar die program en datums deurgegee word.
Kyk ook uit vir Die Evas se Facebook blad wat binnekort aktief sal wees.
Doen jouself n guns en sluit aan by dié gesellige groep.
Alle vroue is welkom – oud of jonk, kunstig of nie – daar is plek vir jou.