Kultuurskatte soos Jan Pierewiet en Voshaarnooi sorg vir groot note-pret
Hier is lekker saamgekuier
Waarna verwys die woorde….koffie in die kan uit die bekende Volksliedjie Jan Pierewiet. Of die woorde ….as hy die dorsmasjien hoor.
Kosbare kultuurskatte waarvan hedendaagse kinders nie meer die betekenis verstaan of die liedere ken nie.
Saterdag 6 April het hierdie liedere weer gesorg vir heerlike pret en plesier toe dit in die vorm van ‘n Noot-vir-Noot geleentheid saamgesing is by ‘n saamkuier geleentheid aangebied deur die FAK Kultuurnetwerke in samewerking met die ATKV -tak Vredefort Koepel by die Udolpho Rivierplaas net buite Parys. Onder leiding van die baie talentvolle Erna Rademan is daar gesorg vir ‘n tonekrul-musieklekkerte.
Ou en nuwe volksliedere uit die liedere-skat is gehoor met die piekniekmandjies wat uitgepak is vir die lekker samesyn.
Pragtige solo’s is om die beurt gehoor van onder meer Wynand Serfontein, Brandon Fourie, Carin Engelbrecht, Magda Perry en Christelle Wilken, terwyl Danelle Crous van Viljoenskroon ook kom inloer het, en saamgesing het.



Foto’s soos gedeel en met erkenning aan die FAK Sentraal WhatsApp-groep.
Klein Surrét Britz, ‘n graad 2 leerder en dogter van Pierre en Sonét Britz, het almal gaande gehad met haar pragtige sang saam met haar pa.
Shani Ward is ook as voorsanger gehoor met pragtige solo’s en is saamgesing aan gunstelinge soos Jantjie, Voshaarnooi en Die Lied van Jong Suid-Afrika
Dankie aan Jan-Danie en Anneke Malan vir die voorbereiding van die saal en gasvryheid op Udolpho.
Erna het na afloop van die oggend die belangrikheid van Volksliedjies beklemtoon en gesê dat dit mense identiteit en ‘n ‘sin van behoort’ gee. “Alle kultuurgroepe het hul eie kultuurliedere nodig omdat dit ons geskiedkundige geheue is. Dit moet bewaar en gekoester word. Daarom is daar soveel waardering vir die werk wat in volksliedere bundels gesit word om hierdie kulltuurskat te verewig,” het sy gesê.



