Local newsNews

Joburg2Bay vir Geopende Deure

So in die verbyry waar hy gaan kyk die 'locals' en skud kop vir die mal perd wat hy opgesaal het, maar Adriaan se fokus is op die eindbestemming en die wete dat hy 'n verskil maak.

Adriaan van der Westhuizen was ‘n geesdriftige fietsryer, totdat Covid mense agter grendels gesit het, en hy ophou fietsry het in 2020. Drie jaar later, in 2023, het Adriaan besef hy mis die fietsryery en wou weer die fietsspeke laat sing, maar dié keer wou hy sommer ‘n lekker uitdaging daarvan maak.

Hy het ‘n roete uitgewerk van Johannesburg na Jeffreysbaai (Joburg2Bay), en begin om doelgerig voor te berei met ‘n 12 weke gefokusde uithou oefenprogram. Met die lang ure se oefen het hy gou besef hierdie moes meer wees as iets op sy emmerlysie. In sy motor op die M1 het hy op ‘n dag die besluit geneem – hy sou die 1 200 km roete te fiets vir Geopende Deure ry.

‘n Internasionale, nie-winsgewende bediening wat ondersteuning aan vervolgde Christene wêreldwyd gee.

Twee weke voor die wegspring het hy al begin met sy fondsinsameling vir Geopende Deure. Teen Dinsdag 24 April het hy al R41 200 bymekaar gehad en 330 km van sy reis voltooi.

Vanaand stop hy op Edenburg en môre vat die pad hom Bethulie toe.

Sy mikpunt is om R120 000 vir Geopende Deure in te samel.

Adriaan het verlede Vrydag, ‘n dag vroeër as wat hy aanvanklik beplan het, in Johannesburg weggespring vir sy eerste skof tot in Parys waar hy by ‘n vriend, Christie Theart, oornag het. Die twee ken mekaar al sedert 1989 toe hulle by die myn ontmoet het.

Saterdag was die volgende skof tot in Viljoenskroon en van daar na Odendaalsrus. Dan sou Bultfontein, Bloemfontein, Edinburgh, Bethulie, Steynsburg, Cradock, Pearson, Jansenville, Cirkwood en uiteindelik Jeffreysbaai volg. Sy laaste dag – ‘n 120 km skof met 1 500 m se klim wanneer hy op 1 Mei sy eindbestemming sal bereik.

Die prentjie voor hom vanuit sy ‘kantoor’ spog Adriaan.

Adriaan vertel dat dit nie sy eerste fondsinsameling vir Geopende Deure is nie. In 2010 het hy en sy pastoor die Twee Oseane gehardloop ten bate van die organisasie, maar hy is meer gebou vir gerief vertel hy. Dié dat fietsry meer in sy kraal gepas het.

Hy het baie beplanning vir die fietstoer gedoen, maar om met bagasie te ry was beslis iets om aan gewoond te raak. “Toe ek wegtrek het ek geweet hier’s moeilikheid.” Hy moes eers sy balans kry, en sy selfoon het op dag een twee maal langs die pad geval.

Niks onnodig word saamgery nie. Net twee stelle ryklere, ‘n warm baadjie, sweetpakbroek, reënjas, laaiers vir sy elektroniese toebehore en selfoon, fiets-gereedskap en energie aanvullings. Om gewig op die fiets te beperk het hy vooraf van sy energie aanvullings ook per koerier gestuur na oornagpunte op sy roete.

Waar hy kan ry hy grondpaaie of agterpaaie. Hy het geen ondersteuningsvoetuig wat hom vergesel nie. “Ek wou aan myself bewys dat ek dit kan doen. Dit is iets wat ek wou doen voordat ek 60 geword het.” Hoewel hy nie daarin kon slaag voor 60 nie, lui die gesegde mos “Liewer laat as nooit.” “Ons onderskat dit wat ons liggame kan doen,” sê hy. Hyself het eers in sy middel vyftigs begin fietsry.

“Ek is ‘n professionele verdwaler,” gesels hy toe hy in Parys stop. “Ek sal op ‘n 100m ‘sprint’ verdwaal.” En ja, hy was maar skrikkerig vir die pad, maar alles het goed gegaan. So in die verbyry waar hy gaan kyk die ‘locals’ en skud kop vir die mal perd wat hy opgesaal het, maar Adriaan se fokus is op die eindbestemming en die wete dat hy ‘n verskil maak.

Op 1 Mei ruil hy sy fietssaal vir ‘n vliegtuigsitplek, want daar is nie ‘n manier dat ek terugtrap nie, sê hy laggend. “My kaartjie is klaar geboek.”

Jy kan meer lees oor Geopende Deure by www.opendoors.org.za.

As jy ‘n bydrae wil maak ten bate van Geopende Deure, gaan na https://www.backabuddy.co.za/campaign/1200 km-bible-ride
Alternatiewelik kan jy ‘n elektroniese inbetaling maak: Geopende Deure, Absa takkode 632005, rekeningnommer 917 217 4758. Die verwysing is BG24.

Related Articles

 
Back to top button