Local newsNews

Van deur tot deur om te praat oor veiligheid

Hierdie veiligheidswenke moet jy onthou

In agt uit elke tien gevalle van huisroof, is inligting van ‘n werkgewer deur ‘n tuin- of huiswerker, of selfs voormalige werknemer, aan ‘n ander party gegee. het statistiek bewys.

Tog word huis- en tuinwerkers dikwels in diens geneem sonder enige bewys van identiteit, adres of selfs ‘n foto van die werknemer. Jy moet weet wie jy in jou erf toelaat, het die polisie vandeesweek weer gewaarsku.

In Parys is twee gevalle van huisroof waar bejaardes geteiken is verlede week gerapporteer, en is ‘n skiellike en drastiese toename in diefstal in Parys se dorpsgebied veral die afgelope tyd gesien.

In ‘n poging om veiligheid in woonbuurte op te skerp, is ‘n grootskaalse bewusmakingsveldtog Vrydag geloods met polisielede, kantoorpersoneel by Parys-polisiestasie, en Gemeenskap Polisiëring Forum (GPF) lede wat te voet van huis tot huis beweeg het om met inwoners oor veiligheid te gesels.
Die veldtog het gefokus op woonbuurte waar die grootste aantal huisbrake gerapporteer is.

Mense is gevra om seker te maak dat deure te alle tye gesluit is, en om diefwering na te gaan voor vensters wat kan oopmaak.

Installeer waar moontlik sekuriteitshekke by voor- en agterdeure en onthou dat ‘n skerp buitelig ‘n goeie afskrikmiddel is.

‘n Loergaatjie of sekuriteitsketting by jou voordeur kan help om iemand te identifiseer voordat jy jou voordeur oopmaak. Die belangrikste is egter om nooit vreemdelinge in jou huis toe te laat nie, maak nie saak met watter storie hulle vorendag sou kom nie.

Moet ook nie jou voordeur oop los wanneer jy agter in die tuin sou werk nie.
Sleutels wat in potplante, posbusse of onder deurmatjies weggesteek word, is ‘n groot veiligheidsrisiko. So ook waardevolle items soos beursies, handsakke, skootrekenaars, selfone, kameras, geld, inkopiesakke en juwele wat naby vensters gelos word.

As jy alleen woon, maak seker familie skakel jou gereeld om seker te maak dat jy veilig is, en maak vriende met jou bure sodat jy op hul knoppie kan druk in ‘n noodgeval.

Ken jou bure in jou straat en sluit aan by WhatsApp straatgroepe. Dit is bewys om baie effektief te werk om inligting vinnig en maklik deur te gee, maar ook in geval van nood.

Maak seker jou huisnommer is duidelik sigbaar vir nooddienste en die polisie, en onthou dat nie alle misdadigers soos misdadigers lyk nie. Moet daarom jou nie laat flous deur ‘n netjiese voorkoms of iemand wat glad met die mond is nie.

Stoor die telefoonnommers van die Parys-polisie op jou selfoon en skryf dit ook neer waar jy dit maklik in geval van nood kan kry:
(056) 816 2519
076 523 5466
063 922 9674.

In die meeste gevalle wat die afgelope tyd in Parys gesien is, het misdadigers oor skeidingsmure in erwe gespring, of toegang tot erwe gekry deur oop motorhekke. Meestal is die voordeur dan oopgebreek om toegang tot die eiendom te kry.

Inbrekers laat hulle nie afskrik deur daglig of inwoners wat tuis is nie, en is dit meestal televisies of elektriese ware wat gesteel word.

Ongelukkig word dit nog té gereeld gesien dat mense deure en hekke oop los, en selfs motors saans in die straat laat.

Dit is ‘n ope uitnodiging vir misdadigers.

Related Articles

 
Back to top button