Môre is hy in JBay na 1 200km se trap
Adriaan trap sy fietstoer ten bate van Geopende Deure

Van nou is dit net teerpad het Adriaan van der Westhuizen net na 09:00 vanoggend laat weet op sy voorlaaste skof van Jansenville na Kirkwood.
Môre, Woensdag 1 Mei, ry hy sy laaste 120km na Jeffreysbaai.
Die einde van sy toer van 1 200km nadat hy op 19 April in Johannesburg weggespring het. Sy doelwit – om R120 000 vir Geoepende Deure in te samel, en hiervan het hy nou R111 640 al bymekaar.
Geoepende Deure is ‘n internasionale, nie-winsgewende bediening wat ondersteuning aan vervolgde Christene wêreldwyd gee.
Adriaan was nog altyd ‘n geesdriftige fietsryer, totdat Covid mense agter grendels gesit het, en hy ophou fietsry het in 2020. Drie jaar later, in 2023, het Adriaan besef hy mis die fietsryery en wou weer die fietsspeke laat sing, maar dié keer wou hy sommer ‘n lekker uitdaging daarvan maak.
Hy het sy roete uitgewerk van Johannesburg na Jeffreysbaai (Joburg2Bay), en begin om doelgerig voor te berei met ‘n 12 weke gefokusde uithou oefenprogram. Met die lang ure se oefen het hy gou besef hierdie moes meer wees as iets op sy emmerlysie. In sy motor op die M1 het hy op ‘n dag die besluit geneem – hy sou die 1 200 km roete te fiets vir Geopende Deure ry.
Twee weke voor die wegspring het hy al begin met sy fondsinsameling .
Adriaan vertel dat dit nie sy eerste fondsinsameling vir Geopende Deure is nie. In 2010 het hy en sy pastoor die Twee Oseane gehardloop ten bate van die organisasie, maar hy is meer gebou vir gerief vertel hy. Dié dat fietsry meer in sy kraal gepas het.
Hy het baie beplanning vir die fietstoer gedoen, maar om met bagasie te ry was beslis iets om aan gewoond te raak. “Toe ek wegtrek het ek geweet hier’s moeilikheid.” Hy moes eers sy balans kry, en sy selfoon het op dag een twee maal langs die pad geval.
Niks onnodig is saamgery nie. Net twee stelle ryklere, ‘n warm baadjie, sweetpakbroek, reënjas, laaiers vir sy elektroniese toebehore en selfoon, fiets-gereedskap en energie aanvullings. Om gewig op die fiets te beperk het hy vooraf van sy energie aanvullings ook per koerier gestuur na oornagpunte op sy roete.
Waar hy kon het hy grondpaaie of agterpaaie gery met geen ondersteuningsvoetuig wat hom vergesel nie. “Ek wou aan myself bewys dat ek dit kan doen. Dit is iets wat ek wou doen voordat ek 60 geword het.” Hoewel hy nie daarin kon slaag voor 60 nie, lui die gesegde mos “Liewer laat as nooit.” “Ons onderskat dit wat ons liggame kan doen,” sê hy. Hyself het eers in sy middel vyftigs begin fietsry.
So in die verbyry waar hy gaan kyk die ‘locals’ en skud kop vir die mal perd wat hy opgesaal het, maar Adriaan se fokus is op die eindbestemming en die wete dat hy ‘n verskil maak.
Op 1 Mei ruil hy sy fietssaal vir ‘n vliegtuigsitplek, want daar is nie ‘n manier dat ek terugtrap nie, sê hy laggend. “My kaartjie is klaar geboek.”
Jy kan meer lees oor Geopende Deure by www.opendoors.org.za.
As jy ‘n bydrae wil maak ten bate van Geopende Deure, gaan na https://www.backabuddy.co.za/campaign/1200 km-bible-ride
Alternatiewelik kan jy ‘n elektroniese inbetaling maak: Geopende Deure, Absa takkode 632005, rekeningnommer 917 217 4758. Die verwysing is BG24.