Local newsNews

Sakevernuf van Hoërskool Parys se entrepreneurs raakgesien

Albert en sy span het vroeër vanjaar 51 skole regoor die land besoek en meer as 55 000 leerders toegespreek. Die top 60 deelnemers is daarna vir die volgende rondte gekies.

Twee van Hoërskool Parys se leerders, Melitte Cornelissen en Nic Foley, is onder die Top 60 mededingers in vanjaar se ‘Maak my ‘n Miljoenêr’ Entrepreneur van die Jaar kompetisie en ViaTV-reeks.

Melitte, ‘n graad 10-leerder van die skool, het haar eie fotografie-onderneming, Mel Fotografe, en vertel trots dat sy al foto’s neem vandat sy vier jaar oud is.

Met haar kameralens staan sy reg by funksies en sportgeleenthede, en vertel dat volgende maand ‘n bedrywige maand gaan wees vir haar met verskeie sportbyeenkomste wat sy moet bywoon. Haar oupa, Kobus, het self ‘n passie vir fotografie gehad, en dit is hy wat by haar die liefde vir fotografie gekweek het. Oupa Kobus is vier jaar gelede oorlede. Om met sy kamera foto’s te kan neem is vir haar ‘n spesiale herinnering aan hom.

Haar bemarking vir haar besigheid doen sy op sosiale media platforms, en vertel sy dat sy by haar ma wat self ‘n sakevrou is, baie geleer het van hoe om ‘n besigheid te bedryf.

Nic het sommer vroeg in sy lewe die waarde van tydgestuur geleer en vertel dat hy tussendeur ‘n besige matriekjaar, eiendom, vakansieoorde en gastehuise wat te koop of te huur is, aanlyn op sosiale media platforms bemark. Hy staan vroeg op en maak seker hy beplan sy dag, vertel hy.

Aanvanklik het hy saam met een van sy skoolmaats, Willem Viviers, ‘n grafiese ontwerp onderneming bedryf en was hulle twee in 2023, ook onder die Top 40 in die kompetisie. Nic het egter verlede jaar besluit om sy eie besigheid, Vinic Media, op die been te bring.

Sy onderneming doen baie goed, vertel hy, en voeg by dat Desember gewoonlik een van die besigste maande van die jaar vir besigheid vir hom is. Sy kliënte is nie net in Parys nie, maar ook in ander dorpe en stede.

Die ‘Maak my ‘n Miljoenêr van die Jaar’-kompetisie is die inisiatief van Albert van Wyk in samewerking met ATKV-kletskringe, die Atterbury Trust, Akademia, Afrikaansdotcom, die MOS-inisiatief en ATKV Oorde.

Die doel van die kompetisie is om entrepreneurskap te bevorder en hoërskool entrepreneurs te bemagtg in Suid-Afrika. Leerders met besighede kon deelneem aan die kompetisie waar hulle dan mentorskap en leiding ontvang van Albert asook ander suksesvolle entrepreneurs.

Albert en sy span het vroeër vanjaar 51 skole regoor die land besoek en meer as 55 000 leerders toegespreek. Die top 60 deelnemers is daarna vir die volgende rondte gekies.

Die top 60 deelnemers kry tans persoonlike mentorskap van Albert en Matthew Blauw, asook Shaniqua Steenkamp (vorige wenners) met behulp van entrepreneurswerkswinkels wat aangebied word.
Net om onder die top 60 deelnemers te wees is reeds ‘n groot prestasie vir dié twee Parysenaars wat uit 125 ander entrepreneur-inskrywings van regoor Suid-Afrika gekies is.

Die top 60 deelnemers woon drie werkswinkels by om soveel moontlik te leer voordat hulle die Brandbank-sessie moet aandurf.

Dit vind in die Junie-vakansie plaas.

Vir meer inligting oor die kompetisie kyk na https://www.maakmynmiljoener.co.za/ of kyk na verlede jaar se reeks op www.youtube.com/@maakmynmiljoener.

Die reeks sal ook vanaf 28 Augustus Woensdagaande om 19:30 op ViaTV kanaal 147 utgesaai word.

Related Articles

 
Back to top button