Om raakgesien te word wanneer jy vreugde in iemand se lewe bring, is spesiaal
"Die wêreld hou van jonk, mooi en nuut en het die gewoonte om seniors soos ou motors op 'n skrootwerf te gooi. Ek wil nie deel wees van daardie wêreld nie."
So gesels die bekende pianis, Rocco de Villiers oor sy besondere projek om senior inwoners van verskeie tehuise regoor die land te vermaak. Inwoners van die Ons Tuis Amot tehuis in Parys was een van die tehuise wat bederf is met Rocco se humor en klavierspel tydens sy besoek hier.
Rocco het sedert die begin van die projek reeds meer as 200 tehuise se inwoners met sy klavierspel en humor vermaak.
Die projek het sy ontstaan te danke aan die voormalige uitvoerende hoof van Shoprite Checkers, Whitey Basson. Nadat Basson afgetree het, het Rocco die teuels oorgeneem en voortgegaan met die projek.
“Om ‘n verskil in hulle wat in ‘n gevorderde ouderdom is se lewens te kan maak, is vir my die beste deel van wat ek doen,” vertel Rocco.
Met sy vertonings by die tehuise sorg hy vir ‘n reis deur tyd met treffers uit die inwoners se eie era, insluitend boeremusiek, filmmusiek en melodieë uit die Tweede Wêreldoorlog.
Met nog vele optredes in die vooruitsig, sê Rocco dat hy nie sal ophou om bejaardes te vermaak voordat daar ‘n jong Rocco is wat die tehuis sal besoek, waar hy oor 30 jaar sal wees nie.
Rocco het tydens sy besoek aan Ons Tuis Emily Hobhouse, ‘n trofee ter erkenning van onbaatsugtige diens aan Ons Tuis ontvang.
Vir hom lê die ware beloning nie in toekennings nie, sê hy egter.
“Toekennings is nie hoekom ek hierdie liefdadigheid begin het, of nog steeds doen nie,” sê hy, “maar om raakgesien te word wanneer jy net bietjie vreugde in iemand se lewe bring, is baie spesiaal.”

“Na die Covid-19-pandemie is dit nog meer belangrik vir my om die besoeke te doen.” Die trofee spog nou in Rocco se kantoor, “sodat hy elke dag daarna kan kyk.”



