Duisende maak gereed om Nampo te besoek
Lees hier wat is nuut en watter ou gunstelinge jy weer vanjaar kan sien

As jy die lang toustaan vir kaartjies vir vanjaar se Nampo Oesdag wil mis, is dit ‘n goeie idee om vooraf jou kaartjies by TicketPro (www.ticketpros.co.za) te kry.
Vanjaar se Oesdag op die Oesdagplaas net buite Bothaville, word gehou van 14 tot 17 Mei. Hekke open om 07:00 daagliks en sluit om 17:00.
Jy kan ook baie waardevolle inligting oor vanjaar se Oesdag kry by www. nampo.co.za of laai die NAMPO-toep van jou voorkeuraanlynwinkel af.
Dié vertoonvenster van die landbou is gerat om weer die nuutste neigings en ontwikkelings wat in die landboubedryf aangebied word, ten toon te stel.
Vanjaar se tema is “Landbou in ‘n Digitale Era”.

Roetes na die Nampo Oesdagplaas
- Die R30 vanaf Bloemfontein en van Klerksdorp
- R59 van Parys na Bothaville (Die R59 vanaf Hoopstad na Bothaville is egter in ‘n slegte toestand en moet eerder vermy word. Gebruik eerder die Wesselsbron-Bothaville roete)
- R504 van Wolmaransstad na Bothaville maar hou in gedagte dat daar ‘n paar stop/rypunte is.
- As jy tussen Bothaville en Orkney sou ry, hou in gedagte dat daar nie ‘n padskouer is nie. Bestuur dus asseblief versigtig
NAMPO het drie 500kVA kragopwekkers geïnstalleer, wat bykomend tot die bestaande 300kVA kapasiteit, genoeg elektrisiteit sal verskaf om aan die aanvraag tydens die NAMPO Oesdag te voldoen.
Die nuut bygevoegde Midas-saal aan die suidoostelike kant van die park huisves ‘n bykomende 60 binnenshuise uitstallers.
NAMPO se koskeuses is meer vanjaar, en besoekers kan uitsien na ’n splinternuwe koservaring wat deur die Syngenta Boerekos Plaaskombuis aangebied word. Die Plaaskombuis sal watertand-geregte aanbied wat wissel van ‘n ekstragroot Pregosteakrol tot smullekker Nacho’s, soetsuur Lamsribbetjies, smulsagte Botterhoendersosaties en geroosterde beesbrosstukplatbrode.
Die gereelde NAMPO-kosstalletjies het selfs meer om te bied, en die eksklusiewe restaurant, wat in 2023 geopen is om aan uitstallers die geleentheid te bied om tafels vir kliëntebesprekings te bespreek, sal weer in die Fanie Ferreira-saal geleë wees.
Die kykNET Vroueprogram skuif terug na sy oorspronklike plek by die teetuin en beloof pretbelaaide oggende gevul met plaaslike televisiebekendes en rusbankpraatjies met jou kykNet-gunstelinge.
Die NAMPO Toep bied aan besoekers beter toegang tot uitstallers en hul liggings met die parkuitleg op die punte van hul vingers.
Die 2024 Boereplanne-kompetisie met Omnia & Landbouweekblad het ‘n nuwe kategorie in die skole afdeling bekendgestel vir enige leerders of studente aan ‘n onderriginstansie verbonde.
Ou Gunstelinge
Daar is steeds die gewilde 4×4-voertuigdemonstrasies Avontuurbaan vir sy-aan-sy-, motorfiets- en quad-roetes. Die saadpersele aan die oostekant van die park bied ‘n uitsig oor graan- en voergewasse en grassoorte van SA se voorste saadmaatskappye.
Die gewilde Nasie in Gesprek gespreksforum bring rolspelers in die landbousektor byeen om plaaslike en internasionale onderwerpe te bespreek en word tydens NAMPO verfilm, met die sessies wat regstreeks op verskeie platforms uitgesaai word.
Die vee-afdeling, wat beeste, skape, varke en bokke insluit, verteenwoordig byna 100% van die groot- en kleinveerasse met ‘n daaglikse stamboom-veeparadeprogram wat in die TAU Veevoer Vee-arena geskeduleer is waar biosekuriteit en protokolle toegepas sal word.



