parkrun tooi turkoois
Tooi vir oulaas hierdie week jou winkel, restaurant, huis, kantoor of gastehuis met turkoois en reik uit na enige van ons tehuise vir bejaardes met ‘n spesiale bederfpakkie of lekker eetdingetjie, of spandeer tyd saam met ‘n bejaarde.

Die weeklikse Egweni River Lodge parkrun was verlede Saterdag in turkoois
getooi ter ondersteuning van die maandlange Tooi Turkoois veldtog wat die week op 15 Junie eindig.
Die landwye veldtog vir NHSV (Nederduits Hervormde Sustersvereniging)-tehuise
vir bejaardes, word gehou ter bewusmaking van bejaardesorg.



Vanjaar is elke tehuis, apteek, restaurant, gastehuis, hardewarewinkel, of watter besigheid
of instansie jy ook al by betrokke is, weer uitgedaag om dié veldtog wat
ook ‘n fondsinsamelingsaksie is, te ondersteun.
In Parys is die veldtog ten bate van AMOT. Die tehuis kry geen subsidie nie, en is enige toiletware vir die bejaardes, koekies wat saam met teetyd bedien kan word, of selfs
skenkings van nie-bederfbare voedsel en eiers, of geldelike ondersteuning
altyd welkom.
Matrone Teresa Broodryk het voor die parkrun wegspring meer vertel oor
die veldtog, en die waarde daarvan om aktief te bly wanneer jy ouer word, beklemtoon.
Heelwat besoekers was onder die 35 parkrunners, en het van sover
as Centurion, Johannesburg en Potchefstroom gekom.


Gregory Cooney van Midstream Centurion was eerste om die roete te
voltooi. Dit was sy 50ste parkrun, maar die eerste keer dat hy in Parys as besoeker deelgeneem het. Vir hom en sy vriende was dit ‘n naweekuitstappie na die dorp
en is hulle beloon met heerlike sonskynweer. Brendan Venter van Centurion was tweede, met Parysenaar Yolande Potgieter kort op sy hakke.

Tooi vir oulaas hierdie week jou winkel, restaurant, huis, kantoor of gastehuis met turkoois en reik uit na enige van ons tehuise vir bejaardes met ‘n spesiale bederfpakkie of
lekker eetdingetjie, of spandeer tyd saam met ‘n bejaarde.



