Local newsNews

Twintig jaar van groei van loodgieteronderneming tot volwaardige hardewarewinkel

'n Suksesverhaal wat die kroon span op jare se toewyding, harde werk, en uitmuntende sakevernuf

Wat begin het as ‘n loodgietersonderneming in Parys het oor die afgelope twintig jaar vir André van der Schyff en sy gesin gegroei tot ‘n suksesverhaal wat steeds van krag tot krag gaan sedert hulle in November 2020 by die Mica-groep aangesluit het.
   
 En daar is nog planne vir uitbreiding. Onderhandelings word tans gedoen om die bougedeelte van die winkel op dieselfde perseel as die sentrale winkel te kry, gesels Laura van der Schyff, wat die winkel saam met pa, André bestuur.
Die sukses van die afgelope twintig jaar is net deur die Here se hand, en te danke aan die vriendelikheid en toegewydheid van hul personeel, en die publiek se ongelooflike ondersteuning, gesels hulle.
As gekwalifiseerde loodgieter begin André die onderneming, A&L Loodgieters, in 1994 in Parys
Uit sy eie ervaring met die loodgieterswerk, het hy gou agtergekom dat daar ook ‘n leemte vir verfverskaffers in die plaaslike mark was So begin hy Paint & Dekor World op die h/v Philip- en Loopstraat, terwyl hy steeds voortgaan met die loodgieteronderneming.
Waar die voorraad aanvanklik net ‘n klein hoekie in die winkel volgestaan het, het die besigheid so uitgebrei dat hy voltyds by die verfwinkel betrokke geraak het.
Op ‘n dag op pad na Drie Riviere sien hy ‘n advertensie van Jacks Paint & Hardware en besef die voordele van bedinging wat ‘n franchise bo ‘n eenmansaak sal bied. So kom dit toe dat hy Paint & Decor World sluit en in 2007/8 op dieselfde perseel sy deure oopmaak as deel van die franchise groep.
As volledige hardeware en loodgieter benodigdhede winkel het André en sy span die besigheid laat groei oor die volgende twaalf jaar, totdat ‘n geleentheid oor sy pad gekom het om by die Mica-groep aan te sluit in 2020.
As kranige entrepreneur en iemand wat nie terugstaan vir uitdagings nie, het hy die geleentheid met albei arms aangegryp en moes daar sommer gou nog spasie gekry word vir die boumateriaal by ‘n perseel op die h/v Loop- en Middelstraat.
In September 2021 was dit tyd vir nog ‘n groot stap toe daar geskuif is na die huidige en groter Mica-perseel.
Jare se harde werk is met verskeie toekennings beloon in beide die Jack’s en Mica groep vir die groei van die besigheid, met die jongste toekenning wat in 2023 aan Mica Parys toegeken is vir die beste groei in die groep vir takke in KwaZulu Ntal, Vrystaat, Lesotho en Swaziland.
Op 4 Junie is daar met dankbaarheid teruggekyk op 20 jaar in die sakebedryf waarin gegroei is van eienaar met een personeellid, tot ‘n span van 31 personeellede.
‘n Suksesverhaal wat die kroon span op jare se toewyding, harde werk, en uitmuntende sakevernuf

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button