Konsentrasiekampdag op besondere wyse in Vereeniging herdenk
Volgens Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat, het hierdie spesiale geleentheid in die Vereeniging-konsentrasiekampbegraafplaas opnuut die kollig geplaas op die geskiedenis van die ABO, en mense herinner waarom dit belangrik is om dié manne, vroue en kinders wat tydens die oorlog hul lewens verloor het, te onthou én jaarliks te herdenk.
By Nylstroom en Turffontein. In Irene en Vereeniging. Van Maitland regdeur tot in Simonstad. Dít is waar die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vanjaar weer op Konsentrasiekampdag húl deel gedoen het om die nalatenskap van die Anglo-Boereoorlog (ABO) se helde lewend te hou.
Die FAK se kultuurnetwerke gedenk jaarliks op 16 Junie die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe regoor die land gesterf het tydens die oorlog van 1899 tot 1902.
Die dag is vanjaar op unieke wyse onder meer deur die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk by die Vereeniging-konsentrasiekampbegraafplaas herdenk met ‘n spesiale opvoering deur lede van dié kultuurnetwerk en Chalkboard Champs, ‘n plaaslike skool vir kinders met spesiale behoeftes. Soos gebruiklik is die verrigtinge geopen en afgesluit deur die Vryheidsmonument Voortrekkers. Past. Pieter Kriel het die boodskap gebring, waarna die geskiedenis vertelling en voorstelling almal vasgenael laat sit het. Die ongenaakbare Britte (Mark Walkden, Hubert Sowerby en helpers) het die oë laat rek, terwyl treffende voordrag deur ma en dogter, Adriana Human en Sonja, asook Peet Schabort, ‘n knop in menige keel laat kom het.


Boer en Brit het daarna simbolies handgeskud, en doringboompies is as hoop vir die toekoms deur die pa’s en jong manne geplant. Vaalrivier Volkspele Laer het ‘n paar bekende Volksliedjies afgestof, terwyl die jonge Quan van Zyl die sweep op maat van musiek laat klap het.
Blomme en kranse is onder die lang naamlys in die begraafplaas van hulle wat gesterf het, geplaas. Die grootste verrassing was toe die kinders van Chalkboard Champs aan elke pappa teenwoordig ‘n geskenkie en handgemaakte Vadersdagkaartjie gegee het.



Volgens Jan-Danie Malan, die FAK se kultuurkoördineerder in die Vrystaat, het hierdie spesiale geleentheid in die Vereeniging-konsentrasiekampbegraafplaas opnuut die kollig geplaas op die geskiedenis van die ABO, en mense herinner waarom dit belangrik is om dié manne, vroue en kinders wat tydens die oorlog hul lewens verloor het, te onthou én jaarliks te herdenk.
Konsentrasiekampe:
Die Konsentrasiekampbeleid het 16 Junie 1900 in werking getree. Vroue, kinders en bejaardes is in haglike omstandighede aangehou in oorvol tente, met karige voedselrantsoene, ‘n tekort aan water en hout, gebrekkige sanitasie en bitter min mediese sorg. Tussen 22 000 en 36 000 vroue en kinders het in hierdie kampe gesterf Op 16 Junie word hierdie tragiese tyd in ons geskiedenis jaarliks op verskeie plekke herdenk * Om betrokke te raak by die FAK se kultuurnetwerke in die VS, kontak Jan-Danie Malan by jandanie@kultuurtuiste.org.za gekontak word.



