Local newsNews

Anna Patat en die Evas hou hekelkuier vir wêreldwye viering

Aanvanklik is dit begin as 'n dag wat mense saam kon brei en mekaar se geselskap kon geniet.

As die hekelgier jou eers nader gehaak het is daar geen keer nie. Vra dié wat die kuns al bemeester het en weet – hekel is verslawend, terapeuties, uitdagend, skeppend, en sommer net pure lekkerte.

Parysenaars het die heerlike tydverdryf en stokperdjie op Wêreldwye Brei en Hekel in die Openbaar Dag gevier. Die dag is begin deur Danielle Landes, en word jaarliks elke tweede Saterdag in Junie gevier.

Aanvanklik is dit begin as ‘n dag wat mense saam kon brei en mekaar se geselskap kon geniet.

Sedertdien word daar op dié dag kosbare vriendskappe gesmee wanneeer die brei- en hekelnaalde uitgehaal word vir ‘n dag se samesyn.

In Parys is die dag by Anna Patat in Parys se hoofstraat kleurvol gevier, maar ook by die Suid-kerk waar 35 Evas die kuns van hekel geleer is deur Erika van Zyl.

 

In die twee ure se samesyn het elkeen van die Evas ‘n warm nekserp vir die winter gehekel.
Erika het gewys hoe maklik basiese hekelsteke ingespan kan word om ‘n verskeidenheid items te maak. Sy het ook vertel hoe sy leer hekel het as terapie na haar pa se dood.

Die Evas is ‘n gratis inisiatief vir vroue van alle ouderdomme wat een maal per maand bymekaar kom om vaardighede aan te leer, geïnspireer deur die Bybelse beginsel dat ouer vroue die jongeres moet leer. Tog het dit gou geblyk dat dit `n oor-en-weer leerdery sou wees.

Daar is onder meer al papiervoukuns, basiese Macramé, en kleimodellering asook versierkuns geleer.
Om die besige skedules van vroue tegemoet te kom, is die maandelikse saamkuier en kreatief wees op ‘n Saterdagoggend net van 10:00 -12:00. Die verrigtinge word afgesluit met tee, koffie en `n versnapering.
Kontak Susan by 061 091 4609 vir meer inligting oor die Evas se volgende saamkuier.

Die foto’s is voorverlede Saterdag by Anna Patat en die Evas se hekelkuiers vir die wëreldwye viering van die hekelkuns in die openbaar geneem.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button