Vrae na LUR-besoek
Vrae is direk aan die LUR se kantoor gerig oor die besoek, en veral die posisie van Ngwathe se tans waarnemende munisipale bestuurder.

‘n Besluit oor die aanstelling van ‘n geskikte kandidaat in die pos as munisipale bestuurder vir die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit kan moontlik eersdaags gemaak word. Die inligting is betroubaar aan die Gazette gegee. Volgens ‘n gesaghebbende bron is onderhoude met kandidate vir dié pos, asook die poste van hoof finansiële beampte, en die direkteure van gemeenskapsdienste en korporatiewe dienste glo reeds gehou, en word daar nou gewag op uitslag van assesserings.
Baie vrae oor die posisie van die huidige waarnemende munisipale bestuurder, dr Tseko Mothamaha, het die afgelope week die rondte gedoen.
Daar is bespiegel dat Ngwathe sonder ‘n munisipale bestuurder is na ‘n besoek van Saki Mokoena, LUR van die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (COGTA), op Vrydag, 5 Julie. Geen bevestiging van die gerugte kon egter van Ngwathe se Uitvoerende Burgemeester, rdl Victoria de Beer, haar kantoor of die Ngwathe munisipaliteit se woordvoerder, mnr. Steve Naale teen Gazette se druktyd gekry word nie.
Dr Mothamaha neem sedert 6 Mei in die pos waar nadat hy deur die provinsie gesekondeer is te midde van Ngwathe se maandelange gesloer met die aanstel van ‘n munisipale bestuurder, asook aanstellings in die ander sleutelposte. Die pos van direkteur van tegniese dienste is ook sedertdien vakant.
Dit het die munispaliteit in ‘n bestuurskrisis gedompel. Die aansoekproses vir die vakante bestuursposte, met die uitsondering van die pos van direkteur van tegniese dienste, is vir die vierde keer in April vanjaar herhaal omdat die gegewe tydsraamwerk waarbinne die aansoekproses voltooi moes word, nie met die vorige proses gehaal kon word nie.
Die LUR se munisipale diensleweringsoorsigbesoek aan Ngwathe is genoodsaak weens verskeie ernstige uitdagings met dienslewering wat die munisipaliteit die afgelope twee jaar het.
Dit het onder meer tot geweldadige prostesoptrede gelei weens die munisipaliteit se onvermoë om volhoubaar skoon drinkwater aan inwoners van Parys te kan lewer. Daar is inwoners wat al vir jare nie water in hul krane het nie.
Van die kwessies wat by die ontmoeting met die LUR bespreek is, het juis ingesluit die vordering met die aanstel van kritieke en strategiese poste in die munisipale topbestuur.
Daar is gepraat oor die verslag van die munisipale oudit, Ngwathe se benarde finansiële posisie, sy enorme skuldlas en onderspandering van regeringstoelaes, asook die kritieke probleme rondom voorsiening van water- en krag, sanitasie, rioolstorting, en die herstel van paaie.
Hierbenewens is gesprekke gevoer oor raadsvergaderings, aanstellingsprosedures, betrokkenheid by die gemeenskap, en die munisipaliteit se MPAC oorsig verantwoordelikhede.
In ‘n skrywe wat oor die besoek op sosiale media gedeel is, is gesê dat die LUR van mening is dat die uitdagings by die Ngwathe Munisipaliteit oorwinbaar is, en dat daar saamgewerk moet word om die probleme aan te spreek.
Die LUR se besoek is ook deel van COGTA se pogings om plaaslike regering op munisipale vlak te versterk en ‘n beter maatstaf en operasionele prosedures in plek te stel vir munispaliteite om hul mandaat na te kom veral ten opsigte van dienslewering.
Wat egter ‘n klip in die skoen van opposisie raadslede is, is dat ernstige kwessies bespreek is met geen terugvoer oor wat by die vergadering gesê is nie.
Die DA se rdl Arnold Schoonwinkel het in ‘n skrywe aan Ngwathe se Uitvoerende burgemeester gesê dat in die gees van ‘n Regering van Nasionale Eenheid (RNE) ‘n meer inklusiewe benadering meer van pas sou wees waarby alle raadslede, besighede en burgerregte organisasies verteenwoordig kon wees.
Ook die Vryheidsfront Plus se rdl Philip van der Merwe het in ‘n skrywe aan Ngwathe se burgemeester die mening uitgespreek dat opposisie raadslede deel van die besprekings moes wees in belang van deursigtigheid in munisipale bestuur, en gevra dat terugvoer oor die bespreking aan raadslede gegee moet word.
Die antwoord op sy skrywe was dat die uitnodiging slegs was vir die burgemeester en haar uitvoerende komitee, en dat geen beslissings by die samesprekings gemaak is nie. Die burgemeester het in haar antwoord ook aan rdl. Van der Merwe gesê die LUR wou homself net vergewis van die stand van sake by die munispaliteit en die uitdagings wat daar is.
Die Vtyheidsront Plus het intussen op provinsiale vlak vrae direk aan die LUR se kantoor gerig oor die besoek, en veral die posisie van Ngwathe se tans waarnemende munisipale bestuurder.
Antwoord op die skrywe is nog nie teen Gazette se druktyd ontvang nie en sal bygewerk word sodra dit ontvang word.



