Vermiste kind: ‘Ons sal nie ophou soek nie’
Die polisie het intussen 'n R25 000 beloning uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle opsporing van Keith, of sou daar 'n misdaad gepleeg wees, die suksesvolle vervolging van die skuldiges," het polisiewoordvoerder Sersant Josephine Rani gesê.
Byna twee weke nadat die vyfjarige Keith Sithole van die Tumahole-woonbuurt in Parys, vermis geraak het, is daar steeds geen teken van die graad R-leerder van Aha Setjhaba nie. Klein Keith het vermis geraak kort nadat sy op 11 Oktober omstreeks 13:20 van die skool af huis toe gekom het.
Sy het haar ma, Kelly, gevra om ysies te gaan koop by een van die buurhuise na aan haar woning. Toe daar nie ysies was nie, is sy na ‘n nabygeleë winkel binne ‘n kilometer radius van haar ouerhuis waar sy die ysies gekry het. Sy is daarna nie weer gesien nie.
Keith het ‘n swart rokkie met groen blomme en swart skoene ten tyde van haar verdwyning gedra.
“Sy was nie ‘n kind wat sommer net rondgeloop het nie,” het haar ma aan Gazette gesê.
Die familie het sedert haar verdwyning na haar gesoek en haar op 12 Oktober as vermis by die Tumahole-polisiestasie aangemeld. Sedertdien is geen steen onaangeraak gelaat in die soektog na haar nie.
Verlede week het lede van die gemeenskap saam met die polisie te voet na haar gesoek, en het lede van die Welkomse honde-eenheid, en die polisie se lugvleuel van Bloemfontein ook gehelp met die soektog.
“Ons sal nie ophou soek tot ons haar gekry het nie,” het Luitenant-kolonel Juanita Janse van Rensburg, stasiebevelvoerder van die Tumahole-polisiestasie gesê.
“Die polisie het intussen ‘n R25 000 beloning uitgeloof vir inligting wat sal lei tot die suksesvolle opsporing van Keith, of sou daar ‘n misdaad gepleeg wees, die suksesvolle vervolging van die skuldiges,” het polisiewoordvoerder Sersant Josephine Rani gesê.
Enigeen met inligting word gevra om die polisie se eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Oortredings in Tumahole se speur-sersant Noliyiswa Masondo te skakel by 082 049 5208, adjudant-offisier Kgayane by 071 891 4321, Keith se ma by 078 705 7487 of die bure, Keke Theletsane by 079 864 0378. Inligting kan ook by die Tumahole polisiestasie deurgegee word, of skakel die Stop Misdaad nommer by 08600 10111, of laat ‘n anonieme wenk op die MySaps selfoontoepassing.



