Klein handjies se mussies vir klein mensies
Haar mussies pas oor 'n tennisbal wys sy - klein genoeg vir die klein mensies vir wie sy dit maak.
Tien mussies en vyf kombersies. Dit is die droom van die 11-jarige Miané Roux van Parys, wat met haar hekelpen fluks aan die werk is om op 17 November wanneer Wêreld Premature Dag gevier word, haar kleurvolle mussies vir prematuur-gebore babas by Vereeniging MediClinic te skenk.
Mia is self op 29 weke in Vereeniging MediClinic prematuur gebore en het by geboorte net 900g geweeg. Sy het destyds ook ‘n mussie by die hospitaal gekry, en vertel dat dié mussie veels te groot vir haar was. Haar ouma, Estelle het ook vir haar ‘n kombersie gehekel.

Dit was juis ouma Estelle se hekelnaald wat die rede was dat die hekelgogga Mia gebyt het. Sommer gou het dié klein handjies geleer om die gare oor die hekelnaald te hak, en toe haar tannie Alta haar ‘n makliker manier gewys het, het Mia se hekelnaald spoed gekry. Kort voor lank het dié dogtertjie met die groot glimlag wat diep in jou hart kruip, ‘n mat, ‘n paar handsakke vir haar maats en selfs ‘n kopband gehekel.

Mia vertel dat sy en mamma Chantal vyf jaar gelede by ‘n reünie vir premature babas was en sy toe gesien het hoe klein sy met geboorte was.
Hoewel sy lank aan hoë vloei suurstof gekoppel was, is sy vandag soos haar maats ‘n lewenslustige dogtertjie.
Haar mussies pas oor ‘n tennisbal wys sy – klein genoeg vir die klein mensies vir wie sy dit maak.


Dit vat Mia ‘n halfuur om ‘n mussie te hekel, en elke mussie word met 100% katoengare gemaak wat sy by Anna Patat kry.As jy ook betrokke wil raak by die beanies4babies projek, gaan na https://www.facebook.com/Beanies-4-Babies-1720613504628229/



